Local newsNews

Meer as 80 bekommerd oor werk ná Waterfront-brand

“Ek het met skok gestaan en kyk hoe alles voor my oë verdwyn. Ek het alles verloor.”

Skaars drie maande nadat ’n groot deel van die bekende Bela-Bela Waterfront in ’n brand verwoes is, moes inwoners en huurders op Vrydagaand 24 Augustus magteloos toekyk hoe dié hele kompleks hierdie keer in ’n brand verwoes word.

Altesame nege sakeondernemings is tydens die jongste brand verwoes. Die Pos verneem dat meer as 80 mense (sake-eienaars en werkers) se werk daardeur in die gedrang is.

| Lees ook: Sake-eienaars van Waterfront bly positief

Die oorsaak van die eerste brand in Mei vanjaar — waarin vier persele verwoes is — is steeds onbekend. Fred van Heerden, eienaar van die Waterfront-kompleks, het destyds aan Die Pos gesê hy vermoed dit was brandstigting. Niemand is egter in verband met dié brand vervolg nie.

Gerhard Olivier, spanleier van die Plaaslike reaksiespan-buurtwag (RSRT), besig om ’n verlore kat weg te neem van die vlamme. Foto: Herman Steyn

Oor die jongste brand het Van Heerden aan Die Pos gesê: “Die enigste behoefte wat ons nou het, is gebed. Niemand weet op hierdie stadium presies hoe die brand ontstaan het nie.”

Vrydag se brand, wat deur sterk winde aangeblaas is, het vermoedelik tussen 22:30 en 23:00 ontstaan.

NJ van Heerden, Fred se seun wat op die perseel gewoon het en eienaar van verskeie van die ondernemings in die kompleks, het kort ná die uitbreek van die brand op sosiale media gesê die brand het in die kombuis van die Rodeo’s-restaurant by die Waterfront ontstaan, maar dit kon teen druktyd nie deur die polisie bevestig word nie.

Charmaine Griessel, wat vir NJ, eienaar van die Waterfront Waffle & Pancake House en Waterfront Nursery & Animal Farm gewerk het, het aan Die Pos vertel veiligheidswagte het haar die aand wakker geskree en gesê die plek is aan die brand. Sy het in ’n erf agter Rodeo’s naby NJ se woning, met sy kenmerkende toringdak, gewoon.

“Ek het my sleutels en foon gegryp toe die huis se dak aan die brand geraak het. Die voordeur se handvatsel was warm toe ek daaraan gevat het,” het Griessel gesê. “Die veiligheidswagte moes die deur oopdwing sodat ek kon uitkom.”

Volgens Griessel was kelners van De Dekke-restaurant op daardie stadium besig om ’n tuinslang nader te trek om die brand by Rodeo’s (wat reeds toe was) te probeer blus, maar geen water het uit die tuinslang gespuit nie, het Griessel gesê. Frans van Zyl, eienaar van De Dekke, het dit beaam.

Die brand het só vinnig versprei dat die kantore van Century 21, Waterfront Waffle & Pancake House, Waterfront Nursery & Animal farm, Rodeo’s, Dental Studio, Jor-dan’s Hair & Nails, Ticky Box Collectables & Antiques, Golf Car SA en De Dekke in ’n gloed van oranje en geel oorweldig is.

Thipe (Budda) Dlamini, hoof van risikobestuur by die Bela-Bela-munisipaliteit, het tydens die brandbestryding rook ingeasem en inmekaargesak. Hier ontvang hy suurstof nadat APA-ambulansdienste hom te hulp gesnel het. Foto: Andries van der Heyde

“Ek het met skok gestaan en kyk hoe alles voor my oë verdwyn,” het Griessel gesê. “Ek het alles verloor.”

Die Bela-Bela-brandweer was gou op die toneel en het probeer om die vlamme te blus terwyl die polisie, verkeersbeamptes, veiligheidsmaatskappye en die gemeenskapspolisiëringsforum die R101-pad beman en verkeer beheer het.

Die vlamme is kort voor die Woodvale Timbers-perseel, naby die oorbrug na die dorp, gekeer.

Vuurtonge het ook aan die grasdak van die gebou waarin Ocean Basket voorheen was, aan die suidekant van die Waterfront, begin lek, maar die brandweer het dit geblus.
Thipe “Budda” Dlamini, hoof van risiko-bestuur by die Bela-Bela-munisipaliteit wat gehelp het om die brand te bestry, was sover bekend die enigste slagoffer van die brand.

Hy het inmekaar gesak nadat hy te veel rook ingeasem het en is deur APA-ambulansdienste na ’n plaaslike hospitaal geneem.

Hy was teen druktyd reeds ontslaan.

Die brand is uiteindelik Saterdagoggend teen ongeveer 02:00 in bedwang gebring.

Die diere by die Animal Farm kon gelukkig gered word, het NJ gesê. Woodvale, NJ se toringhuis, die Gold Rush Casino en die Waterfront Car Wash is nie tydens die brand beskadig nie.

Besoekers en oningeligtes het Saterdag met verbasing na die skade gekyk toe hulle die dorp ingery het.

’n Ongeluk het vermoedelik op Maandag 27 Augustus om 11:00 by die kruising plaasgevind nadat ’n motorryer glo na die skade gekyk en teen ’n ander voertuig gebots het.
Vergaderings met die Waterfront-sake-eienaars oor die pad vorentoe sou die afgelope week plaasgevind het.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die munisipaliteit het een van sy grootste trekpleisters na die dorp verloor.

“Dit is baie jammer dat die brand ontstaan het, want toerisme was aan die groei,” het hy gesê. “Die opruimingswerk by die Waterfront is reeds aan die gang, maar ons kan nie sê hoe lank dit gaan neem nie.”

Mosito het bewerings dat daar die aand nie water was om die vlamme te blus nie, ontken. “Elke perseel het toegang tot water gehad.”

Die Bela-Bela-polisie het by navraag gesê forensiese toetse sal gedoen word om die oorsaak van die brand te bepaal.

Related Articles

Back to top button