MunicipalNews

Kragkrisis: DONKER of NIE?

Die hof het die laaste sê oor krag.

Inwoners en veral sakelui was vandeesweek op die punte van hul stoele in afwagting vir die uitslag van twee hofaansoeke wat dié week probeer keer dat Eskom die kragtoevoer na die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit drasties sny.

Die munisipaliteit het op Dinsdag 26 Junie ’n tydelike oorwinning in die hoërhof in Polokwane behaal. Die uitspraak in terme van artikel 152(1) van die munisipale finansiële bestuurswet, bied die munisipaliteit 90 dae grasie waarin krediteure soos Eskom nie teen hulle mag optree nie.

Marlene van Staden, burgemeester, het kort voor druktyd gesê hulle sal ’n onderneming van Eskom vra dat die kragreus nie op Vrydag 29 Junie sal voortgaan om beurtkrag in te stel nie. Sou Eskom weier, sal die munisipaliteit toestemming verkry om hul gewig by die Waterberg-sakekamer se aansoek teen Eskom te gooi. Dié aansoek dien op Donderdag 28 Junie voor die hof in Pretoria.
Die afsny van die kragtoevoer kan volgens sakelui ’n verwoestende uitwerking op die ekonomie van die dorp én werksgeleenthede hê.

Verskeie ondernemings het aan Die Pos gesê hulle sal moontlik hul deure moet sluit en groener weivelde gaan soek indien Eskom die kragtoevoer volgens die beplande skedule beperk.

Lees ook: Die ligte bly (vir eers) aan

Van die inwoners is ook bekommerd dat die onderbroke kragtoevoer kan lei tot onluste wat die dorp verder sal lamlê.

Volgens Eskom se laaste kennisgewing in Die Pos op Vrydag 22 Junie sou hy voortgaan om beurtkrag vanaf Vrydag 29 Junie toe te pas. Die eerste week sal die kragkraantjie van 06:00 tot 09:00 en van 17:00 tot 20:30 op weeksdae toegedraai word. Oor naweke sal die krag van 08:30 tot 12:00 en weer van 15:00 tot 19:00 af wees.

Die daaropvolgende week sal die kragtoevoer elke dag van 08:00 tot 20:00 af wees. In die kennisgewing sê Eskom dat hulle ná 15 dae kennisgewing die kragtoevoer heeltemal mag afsny indien die uitstaande skuld nie verminder nie.

’n Algemene gevoel onder inwoners is dat diegene wat goeie betalers is, nou gestraf word vir die munisipaliteit se onvermoë om hul rekeninge te betaal.

Sakelui en inwoners het geld ingesamel en die sakekamer het die prokureursfirma Cilliers & Reynders Ingelyf as regspan aangestel in hul poging om ’n stokkie voor die drastiese stappe van Eskom te steek om die meer as R250 miljoen se uitstaande skuld van die munisipaliteit te verhaal.

Volgens Van Staden sal die beperking van die kragtoevoer ook ’n groot impak op die dorpe se water hê. “Ons het nie kragopwekkers by ons reservoirs nie en sal nie water kan pomp nie. Die rioolaanleg sal ook nie sy werk kan verrig nie. Die munisipale kantore self sal ook dalk ons deure vir die tydperk moet toemaak, want ons stelsels is alles gerekenariseerd,” het sy gesê.

Die sakekamer glo dat dié uitspraak in die munisipaliteit se guns hul eie saak versterk.

“Ons regspan wag steeds om Eskom se reaksie te kry op die sakekamer se aansoek om die beurtkragskedule te stuit. Eskom sal ook nou moet verduidelik waarom hulle uit eie keuse nie die munisipaliteit se aansoek teengestaan het nie,” het Wiets Botes, voorsitter van die sakekamer gesê.

Die sakekamer se aansoek om verpligte ingryping is op Dinsdag 10 Julie voor die hof. Hul aansoek wil die provinsie en die nasionale tesourie dwing om in te gryp in die munisipaliteit se finansiële verknorsing.

“Volgens ons regspan is dit nou baie moeilik vir die regering om hierdie aansoek ook teen te staan. Dit is jammer dat munisipaliteite en gemeenskapsorganisasies hulle na die howe vir redding moet wend, maar dit is ook ’n pluimpie vir die gemeenskap dat agteruitgang nie gelate aanvaar sal word nie,” het Botes gesê.

* Hou Die Pos se Facebook-blad dop vir die uitslag van die sakekamer se hofaansoek.

Related Articles

Back to top button