MunicipalNews

Alle hoop op howe om Eskom te keer

Alle hoop is nou op die howe dat Eskom nie binne 14 dae begin met ingrypende beurtkrag in Modimolle, Mookgophong en Vaalwater nie.

Die Waterberg-sakekamer sou hul semidringende hofaansoek op Woensdag 13 Junie na Eskom, die munisipaliteit en verskeie regeringsdepartemente gestuur het.

 

 

Hulle het reeds hul beswaar by Eskom ingedien, tesame met ’n ekonomiese impakstudie deur die gerekende ekonoom Mike Schussler.

Die Modimolle-Mookgophong munisipale raad gaan na verneem word ook ’n hofaansoek indien om regstappe deur krediteure te verhoed. Dit sluit Eskom se voorgenome planne in.

Lees ook: Sakelui en inwoners is diep bekommerd oor Eskom-dreigement

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het tydens ’n imbizo in Phagameng op Maandag 11 Junie aan inwoners gesê die raad het ten gunste daarvan gestem om ’n aansoek ingevolge artikel 151 en 152 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) in die hooggeregshof in te dien. Sou hul aansoek suksesvol wees, sal alle regsverrigtinge deur krediteure van die munisipaliteit vir eers gestuit word.

Dit sal ook verhoed dat Eskom beurtkrag in dorpe in die munisipaliteit vanaf Vrydag 29 Junie instel.

“Die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) het ’n staatsprokureur aangestel om namens die munisipaliteit op te tree. Die prokureur het twee senior advokate wat ons sal bystaan, aangestel,” het sy gesê.

Volgens haar is die advokate besig om die nodige dokumentasie voor te berei en die aansoek in die hoë hof sal binne die volgende week begin.

Inwoners van die dorpe was tydelik verlig ná verlede week se nuus dat die provinsiale regering dié munisipaliteit onder administrasie geplaas het. Dit hou egter steeds nie die Eskom-wolf van die deur nie.

Wiets Botes, voorsitter van die Waterberg-sakekamer in Modimolle, het by navraag gesê die ingryping is “nie genoeg nie”.

Volgens Botes is die stappe wat die provinsie doen “nie administrasie nie, maar ingryping”. Botes het gesê: “Dit is twee verskillende dinge. Die waarnemende munisipale bestuurder en die adviseur wat deur die provinsiale tesourie na die munisipaliteit gestuur is, is deel van die ingryping. Die mag lê egter nog steeds by die munisipale raad. Ons wil die munisipaliteit geheel en al onder administrasie geplaas hê om te verhoed dat Eskom ons krag afskakel. Daarom gaan ons voort met ons hofaansoek.”

Botes het gesê die sakekamer beoog dieselfde uitkoms as wat die inwonersverenigings van Barkly-Wes en Delportshoop vandeesweek behaal het. Eskom is op Maandag 11 Junie deur die hooggeregshof in Kimberley beveel dat die kragreus nie die kragtoevoer na die Dikgatlong-munisipaliteit in die Noord-Kaap mag afsny nie.

Die betrokke dorpe het die afgelope vier weke kragonderbrekings gehad weens skuld en betogings het daarop gevolg.

Die hof het beveel dat dié munisipaliteit Eskom volgens die betalingooreenkoms moet betaal en dat die premier ’n regrukplan moet implementeer sodat die munisipaliteit sy skuld kan betaal.
Indien die plan nie suksesvol is nie, sal die munisipale raad ontbind moet word en ’n administrateur aangestel word tot ’n raad verkies is. Die oorname moet ’n nuwe begroting en stappe om die uitstaande skuld in te vorder, insluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button