Local news

Mabalingwe en omgewing ’n rampgebied

Daar is tydens ’n spesiale raadsvergadering van die Bela-Bela-munisipaliteit besluit dat die Mabalingwe-natuurreservaat en die omliggende omgewing as ’n plaaslike rampgebied verklaar word.

Dié besluit moet egter nou aan Basikopo Makumu, Limpopo se LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (CoGHSTA) voorgelê word wat dan by magte is om dit te bekragtig.

Die munisipaliteit het op Dindagoggend 3 Oktober vergader om te besin oor die verwoestende brande wat die natuurreservaat en omliggende oorde en plase gedurende die langnaweek (23-25 September) in puin gelê het.

Die Pos verneem dat opdrag aan die munisipale bestuurder gegee is om die nodige stappe te neem sodat die omgewing amptelik as rampgebied verklaar word.

Brande het groot skade in die omgewing veroorsaak.

Dit volg nadat Makamu op Woensdag 27 September die gebied saam met die Bela-Bela burgemeester, Gloria Seleka en verskeie raadslede, besoek het.

Die doel was om ’n voorlopige verslag saam te stel van die skade wat aangerig is, te simpatiseer met diegene wat geraak is deur die skade en om te kyk na onmiddellike verligting.

Seleka het toe gesê sy is bekommerd oor die skade aan die infrastruktuur wat die toerismesektor nadelig sal beïnvloed, asook die moontlike werkverlies wat kan volg.

Die DA en Vryheidsfront Plus het ook versoeke aan Makamu gerig dat die gebied as ’n rampgebied verklaar word. Meer as 58 huise het afgebrand en sowat 13 000 hektaar veld het onder die vlamme deurgeloop.

  • Andries van der Heyde, DA raadslid, het ’n versoek aan inwoners gerig om nie vure te stig nie.

“Indien jy iemand gewaar wat brande stig, moenie huiwer om ’n raadslid, die polisie of die munisipaliteit te kontak nie.”

Hy het ook daarop gewys dat inwoners nie vullis in hul erwe aan die brand mag steek nie. Onwettige vullisstorting sal nie verder geduld word nie en swaar boetes sal daarvoor opgelê word.

Related Articles

Back to top button