Local news

Mabalingwe-brand: Reservaat se diere kom nou eerste

Uit die sowat 3 500 stuks wild wat ons het, is minder as 0,3% van die diere beseer.

Die diere van die Mabalingwe-natuurreservaat geniet nou topprioriteit ná die vlammehel wat die reservaat in puin gelê het.

Wat ’n naweek van erfenis-herdenking moes wees, het op Saterdagmiddag 23 September in paniek en chaos ontaard toe ’n veldbrand deur ’n sterkwind aangedryf is en die reservaat binnegesypel en groot verwoesting gesaai het. Altesame 56 huise is vernietig en ’n boskamp het ook afgebrand. Die oorsaak van die brand is onbekend.

Alyscia Wessels van dié reservaat het aan Die Pos vertel as ’n mens in gedagte hou hoe fel die brand was, is daar bitter min diere wat beserings opgedoen het.

Foto’s bo en onder: Talle sakelui en inwoners sorg dat die wild genoeg het om te eet.

“Uit die sowat 3 500 stuks wild wat ons het, is minder as 0,3% van die diere beseer. Ons veldwagters het bestekopnames gedoen en daar is geen beserings by die grootwild wat olifante, renosters en buffels insluit, aangemeld nie.”

Wessels sê die diere is ongelooflik intelligent.

“Ná die brand het ons geen diere gesien nie en was aanvanklik bekommerd, maar stadig maar seker het dit gelyk asof hulle van nêrens af begin terugbeweeg het. Ons gidse is voltyds in die veld en rapporteer gereeld terug waar hulle wild sien en die syfers lyk goed.”

Die personeel is hierdie week besig om al die wild te tel en versorg die diere wat wel seergekry het. Hannes Wessels (eienaar en ontwikkelaar) het Maandagaand in ’n televisie-onderhoud gesê geen van die groot katte wat in die predatoresentrum aangehou word, het enige beserings opgedoen nie. Hy het gesê Mabalingwe beslaan 8 800 hektaar en daar is tans net sowat ’n duisend hektaar se weiding oor vir die gras- en blaarvretende spesies.

“Ons is dankbaar oor al die voer wat ons al ontvang het. Ons sal egter volgehoue ondersteuning nodig hê vir die wild totdat dit begin reën en die veld herstel het.”


Die amptelike struktuur verantwoordelik vir die bestuur van voorsorg, asook tydens die brande, was die Bela-Bela Brandvereniging (BBV) onder die Nasionale Wet op Veld en Bosbrande 101 van 1998.

Die afgelope langnaweek is al die brandsektore se lede (Baviaansberg, Droogekloof, Droogelaagte, Arendsnes, Mabalingwe en Rooiberg van die BBV geaktiveer. Die Working on Fire-spanne (WoF) was ook daar om die brande te beheer tydens die ongunstige weersomstandighede. Die WoF helikopter is vanaf Tzaneen ingespan. Die BBV bedank al die sektorlede, asook die Modimolle brandbrandvereniging. Dit is egter belangrik dat soveel as moontlik grondeienaars en bestuurders inskakel by die amptelike strukture om veldbrande te bekamp en te bestuur.


Dit was een van die ergste brande wat die Bela-Bela-omgewing getref het met brandbestryders en helpers wat onverpoos tot Maandaglaatmiddag gewerk het om die vlamme onder beheer te kry.

Die vlamme en rook het nie net die reservaat verswelg nie, maar na omliggende oorde soos Bonwa Phala, Thaba Moriri, plase en kleinhoewes gespring en strukture verwoes.

Sondagoggend is die reservaat se gaste gevra om op te pak en teen die middag was die hele reservaat ontruim. Die R516-pad na Thabazimbi was op ’n stadium gesluit omdat die sig baie swak was met die swaar rookwolk wat daar gehang het.

Die verligting was tasbaar groot toe die weer Maandag laatmiddag opsteek en genadewater van Bo die brand finaal geblus het.

Matie Barnard, bestuurder van die Mabalingwe Common Property Association, het gesê een personeellid het brandwonde opgedoen terwyl hy die brandbestryders gehelp het om die vlamme te probeer blus. Die vlamme het hom onverhoeds betrap toe die wind skielik gedraai en hy omsingel is. Daar is geen verdere beserings aangemeld nie.

Mabalingwe se bestuur bedank almal wat kom help het om die brand te bestry en steeds bydra tot die kosskenkings vir die diere.

Kos vir die diere word steeds dringend benodig. Enige skenkings van voer of donasies, hoe gering ook al, sal waardeer word.

Donasies kan inbetaal word by ABSA, rekeningnommer: 406415 9982, takkode: 632005.


Druk op skakel vir beeldmateriaal: https://fb.watch/nlfRWdpMN9/

Related Articles

Back to top button