Local news

Brand verwoes bykans alles op wildsplaas

Die brand wat die afgelope naweek derduisende rande se skade by JB Game Ranch op die Jasper-pad buite Modimolle verwoes het, is een van talle wegholbrande die afgelope ruk.

Die brand het vermoedelik in die veld langs die informele nedersetting wat direk aan die Bothas se plaas grens, uitgebreek en hul plaas omstreeks 13:00 bereik.

Volgens die brandbeskermingsvereniging (FPA) van Modimolle was die brandgevaarindeks die betrokke dag gevaarlik hoog met ’n windsnelheid van 23 km/h wat die vinnige verspreiding van die vlamme aangehelp het. Die droë veldgras wat plek-plek baie hoog staan op die wildsplaas het ook die brand vinniger laat versprei.

Ooggetuies vertel dat die woonhuise, kothuise, onthaal- en konferensiesaal se grasdakke vinnig vlam gevat het en dat die brand alles binne enkele minute verswelg het.

Janita van der Walt (40), een van die Bothas se dogters, het aan Die Pos vertel dat sy en haar ma die Donderdagoggend (18 Augustus) in Mokopane was om haar dogter, Annél-Marie (12), se hokkiewedstryd te kyk. Haar seun, Janrich (13), het op die plaas saam met haar pa agtergebly.

Hulle was net ’n kort rukkie weg toe haar pa bel om te sê die plaas brand.

“Ons het dadelik teruggery plaas toe terwyl ons heeltyd gebid het dat my pa en seun nie iets moet oorkom nie. Toe ons omstreeks 14:30 daar aankom, was alles reeds tot op die grond afgebrand,” het sy gesê.

Janrich het vertel hoe hy ten spyte van die gevaar teruggegaan het in die brandende huis waar hy gemeen het sy oupa was om hom te red. Sy oupa sukkel al geruime tyd met gesondheidsprobleme waaronder ook diabetes. Hy het op Woensdag 6 Julie ’n besering aan sy voet opgedoen wat nie wou genees nie en sy beweeglikheid in so ’n mate gestrem het dat hy met krukke oor die weg moet kom.

Gelukkig het die huiswerker, Maria Motlala, hom betyds na buite gehelp voordat die vlamme die huis verswelg het. Janrich het hulle albei in die plaasbakkie gelaai en deur die digte rook en vlamme na veiligheid gejaag voordat hulp opgedaag het.

Nog twee werkers het probeer om die klein vragmotor en twee voertuie uit die vlamme te red, maar dit was reeds te laat. Een van die werkers, Chris Mattheys, het ernstige brandwonde opgedoen.

Talle boere van die omgewing het saam met Working on Fire (WOF) se vuurvegters geveg om die brand onder beheer te kry.

Van der Walt verduidelik dat haar ouers steeds aan skok ly omdat alles wat hulle besit in die brand vernietig is. “My ouers is gebreek,” het sy gesê. Hulle kan ook nie die skade van ’n verseke-
ringsmaatskappy terugeis nie omdat hul gedurende die Covid-19-pandemie geen inkomste uit die plaas gegenereer het nie en noodgedwonge hul versekering moes kanselleer.

“My ouers se harde werk van 21 jaar se opbou, aanbou, verbeterings, instandhouding, asook hulle drome en trots is alles weg. Hulle besit nou net die klere wat hulle aangehad het.”

Volgens haar het hulle net die dag tevore hul maandelikse medikasie ter waarde van R3 000 gekoop. Selfone, tabletrekenaars en vuurwapens is ook vernietig. Kosbare familiefotos en erfstukke is nou vir altyd verlore, het sy gesê.

Sy en haar gesin het ook feitlik al hul besittings in die brand verloor. Sy het aan Die Pos vertel dat haar man, Heinrich, onlangs ’n werk in Marble Hall aanvaar het. Hul twee kinders, wat voorheen leerders van Laerskool Nylstroom was, is vanjaar by die skool in Marble Hall ingeskryf en die gesin was besig om hul meubels en besittings daarheen te verskuif.
Joshua Wilson (19), een van die Bothas se kleinseuns, se besittings is ook alles vernietig. Hoewel sy ma, Annamarie Whiteman, in Brakpan woon, het hy sedert 2021 in ’n kothuis op die plaas gebly.

Die Botha-egpaar woon tans by hul dogter, Nellie Swanevelder, en haar gesin in Marble Hall.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het die egpaar op Vrydag 19 Augustus, die dag na die brand, besoek om haar innige meegevoel te betuig.

Die Pos het die omgewing op Maandag 22 Augustus saam met Van Staden en Wiets Botes (Wyk 12 se raadslid) besoek. Dit was duidelik dat die brand in die veld wat aan die Bothas se plaas grens, ontstaan het. Hierdie omgewing word glo gebruik as gemeenskaplike weiding vir inwoners van die township wat vee besit. Daar is ook afgekom op plekke waar rommel onwettig in die veld gestort word.

Hoewel daar talle bewerings gemaak is dat die brand by die aangrensende sinkhuise van die Jasper-township of informele nedersetting daar neffens ontstaan het, is daar egter geen tekens van enige brandreste of skade nie.

Van Staden het bevestig dat die brand wel op munisipale grond ontstaan het, maar dat die sny van brandbane deel is van rampbestuur wat die verantwoordelikheid is van die Waterberg-distriksmunisipaliteit en nie die plaaslike owerheid nie.

Inwoners word gemaan om uiters versigtig te wees met oop vure. Grondeienaars moet ook toesien dat hulle die nodige brandbane aanbring.

Related Articles

Back to top button