60 jaar later en die liefde blom steeds

Hulle kinders, Rolene, Hannes en Susan voel baie geseënd en dankbaar vir die Here dat albei hulle ouers nog leef.

Vanjaar op 17 Desember het Theuns (84) en Len (78) van den Berg hulle 60ste huweliksherdenking gevier.
Hulle beskryf hul huwelik as 60 jaar van geloof, liefde, geduld, vertroue en saamwees.

Van den Berg geskiedenis

Theuns en Lena is op 17 Desember in 1960 getroud toe Theuns 24 jaar oud was en Lena 18. In dieselfde jaar het Theuns gekwalifiseer as ‘n petrol- en dieselwerktuigkunidge en by Bergers Dienstasie gewerk as ‘n meganiese werktuigkundige in Koster in Wes-Transvaal.

In 1975 het hulle Alberton toe verhuis nadat hulle ‘n vennootskap aangegaan het saam met huisvriende om saam ‘n besigheid te begin in Jacquelineweg in Randhart toe nog die Mobil Garage (nou die Engen vulstasie). Theuns het die werskwinkel bestuur.

In 1976 het hulle deur kennisse gehoor van ‘n Total Vulstasie wat nuwe eienaarskap soek in Haystraat in Turffontein, hulle het aansoek gedoen en is aanvaar en het daar TL Dienstasie begin.

Die gesin het in Turffontein gebly vanaf 1976 tot 1983.

“Gedurende hierdie periode in 1983 het Total SA hulle genader en hulle laat weet dat daar ‘n nuwe Total Garage in Andriesstraat Brackendowns opgerig gaan word en dat hulle moet aansoek doen vir eienaarskap, wat hulle toe wel gekry het met die genade van Bo,” het hul dogter, Susan, vertel.

“Wel, toe sit hulle met twee Total dienstasies.”

Albei dienstasies was onder die top 10 Total dienstasies in die land. Lena het die dienstasie in Turffontein bedryf en Theuns het die een in Brackendowns. Dieselfde tyd het Brackendowns groei beleef en die werkswinkelfdeling was bedrywig.

Hulle het besluit om die diensstasie in Turffontein te verkoop en al hulle energie in die dienstasie in Brackendowns in te sit.

Die gesin het in 1983 na Brackendowns verhuis.

Theuns en Lena het ‘n absolute sukses van dié dienstasie in Brackendowns gemaak wat as Bracken Tune-up Centre bekend was.

In 1984 het hulle die besigheid uitgebrei om ‘n Renault Agentskap te begin vir kar verkope en veral dienste op Renaults, en so het die besigheidsnaam na a Bracken Renualt verander.

Tyd vir aftree

“Hulle het aangehou om die besigheid ‘n sukses te maak en was steeds onder Total SA se top 10 dienstasies in die land tot in 1998 waarna hulle besluit het om die besigheid aan Hannes oor te laat. Pensioen was toe op die voorgrond weens Theuns se gesondheid, Theuns was 62 jaar oud en Lena 56,” het Susan vertel.

In 2002 het hulle gesamentlik saam met Susan, hulle jongste kind, besluit om hulle huis in Brackendowns te verkoop en by haar huis in Brackenhurst aan te bou want hulle is definitief nie die aftree oord ge-aarde mense nie.
Lena het op 64-jarige ouderdom by dr Eddie Wium ‘n ginekoloog by die Clinton Hospitaal as ontvangsdame begin werk tot op ouderdom 74.

Volgens Susan behartig haar pa steeds sy eie groentetuin en is sy en haar ma besig om die huishouding te bestuur en tuin te maak.

Boodskap van kinders

Theuns en Lena het vier kinders (Louis is oorlede in 1995), ses kleinkinders, (Zelda is oorlede in 2012), twee stief kleinkinders (JD is oorlede in 2014), vier agter kleinkinders en vier stief agterkleinkinders.

Hulle kinders, Rolene, Hannes en Susan voel baie geseënd en dankbaar vir die Here dat albei hulle ouers nog leef.
“Hulle het ons die regte weë in die lewe geleer en vir dit is ons baie dankbaar.

“Ons as familie is baie geseënd en dankbaar om oupa Theuns en ouma Lena nog in ons almal se lewens te hê. Hulle wys vir ons die weg vooruit en maak ons bewus daarvan dat ouderdom ‘n persoon nie kan beperk nie, en dat jy altyd moet opkyk na Bo vir wysheid en dit volg,” het Susan gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version