EntertainmentLifestyle

Plaaslike rolprent maak golwe oorsee

Elton Landrew, Shimmy Isaacs en Kay Smith is ook in die fliek te sien.

Wanneer jy ’n stormagtige ma-seun-verhouding, dwelms en moord saamgooi, kry jy ’n storie vol intrige, emosie en spanning, wat kykers nie net vasgenael sal hou nie, maar ook kritici sal beïndruk.

Een van die mees opspraakwekkende moordsake in Suid-Afrika kry eersdaags lewe op die grootskerm en is iets wat geen fliekliefhebber moet misloop nie!

Net soos die ware verhaal waarop dit gebaseer is, het Ellen, die stori van Ellen Pakkies, ook reeds die rolprentwêreld aan die gons en word dit op 27 Januarie by die Rotterdamse Internasionale Rolprentfees vertoon, lank voordat plaaslike kykers dit te siene gaan kry.

“Dit is vir my ’n groot voorreg om te weet dat hierdie klein film dit reggekry het om nie net aan internasionale standaarde te voldoen nie, maar ook erkenning te kry by so ’n gesogte fees.

“Dis regtig vir ons ’n groot eer en ek wil almal bedank wat dit moontlik gemaak het, veral Ellen Pakkies, ” sê uitvoerende vervaardiger, Paulo Areal.

Die fliek, wat oor twee storielyne afspeel, vertel die storie van Ellen Pakkies (Jill Levenberg) se spanningsvolle verhouding met haar twintigjarige seun, Abie (Jarrid Geduld), wat aan dwelms verslaaf is.

In 2007, het sy dood opslae gemaak regoor die wêreld.

Die mees ontstellende aspek van die moordsaak was dat sy ma die moordenaar is.

Advokaat Adrian Samuels (Clint Brink) neem dan haar saak in en is vasbeslote om te bewys dat Ellen nie ’n ander keuse gehad het nie.

Maar wat het veroorsaak dat sy ophou hulp soek het?

Hoe word ’n ma desperaat genoeg om haar eie seun se lewe te neem?

Bekroonde regisseur en stigter van Gambit Films, Daryne Joshua, wat bekend is vir sy suksesvolle debuutfilm, Noem My Skollie, was aan die stuur van hierdie indrukwekkende produksie, terwyl die draaiboek deur Amy Jephta geskep is met die hulp van die regte Ellen Pakkies se insette.

Laasgenoemde het ook baie gehelp om die tonele in die fliek, wat in haar huis geskiet is, so outentiek as moontlik te herskep.

Jill Levenberg, wat al verskeie rolle gehad het in films en televisiereekse soos Genadekans, Noem my Skollie (wat in 2016 Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die Oscars was), Leemte, While You Weren’t Looking, Abraham, Bekkies Gevind, As Ek Huistoe Kom, Fluit-Fluit, Atlas, Uitvlucht en Suidooster (waarvoor sy in 2017 genomineer is vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning) speel die rol van Ellen Pakkies en het reeds baie positiewe terugvoer oor haar vertolking ontvang.

Elton Landrew, Shimmy Isaacs en Kay Smith is ook in die fliek te sien.

Die vervaardiger is Schalk Burger.

“Die Rotterdamse Internasionale Rolprentfees is een van die mees gesogte internasionale filmfeeste.

“Ek is baie opgewonde dat ons klein Suid-Afrikaanse projek bo duisende ander inskrywings, van regoor die wêreld, gekies is om deel te wees daarvan in 2018.

“Baie geluk en baie dankie aan die vervaardigers en filmspan, ons kan trots wees op hierdie prestasie.

“Ek hoop ook dat mense nou ook die omstandighede rondom Ellen Pakkies se merkwaardige verhaal beter sal verstaan,” sê Daryne Joshua.

Ellen, die stori van Ellen Pakkies is die ontstellende verhaal van ’n vrou wat deur die strafproses geplaas word, teregstaan op ’n moordaanklag en gedryf is deur ’n onwrikbare liefde vir haar seun.

Dit delf in die innerlike psige van ’n familie wat deur dwelms vernietig word, in een van die gevaarlikste gemeenskappe in Suid-Afrika.

’n Plaag, met gevolge wat verder strek as die Kaapse Vlaktes en wat die staat se onvermoë, om die armstes van die armes te beskerm, beklemtoon.

Dié kykNET Films produksie is vervaardig in samewerking met M-Net, die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) en TMPBC (The Moving Billboard Picture Company).

Dit word op 7 September 2018, landswyd, deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.

*Vrygestel deur Alishia van Deventer van Starburst Promotions.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Related Articles

Back to top button