VIDEO: Lizandra Winter se nuwe album binnekort vrygestel

Hoendervleismooi is die perfekte woord om Lizandra Winter se splinternuwe enkelsnit op te som.

LIZANDRA Winter het onlangs haar splinternuwe enkelsnit vrygestel.

Hoendervleismooi is die perfekte woord om Lizandra Winter se splinternuwe enkelsnit op te som. DIE BEGIN bou voort op die sukses van haar eerste amptelike solo-snit en musiekvideo, Fluister, wat nie net deel was van die 2016-lokettreffer Vir Altyd se klankbaan nie, maar ook steeds gereeld speeltyd kry oor die radio en op die kassie.

Haar selfgetitelde Afrikaanse debuut-album word binnekort bekendgestel en sluit ’n spesiale duet van die Christa Steyn-treffer, Ek wil vir jou, in. Sy sing dit saam met die sangsensasie, Joshua na die Reën, wat beloof om selfs die kritieste oor te beïndruk.

KYK:

“Die liedjies wat ek gekies het om op die album te wees, is oor ’n tydperk van twee jaar geskaaf. In elke seisoen van my lewe was daar nuwe inspirasie en het ek geskryf oor die lesse wat ek geleer het en die dinge wat ek voel ek nog moet bemeester. Die musiek op die CD gaan oor daardie kosbare dinge in die lewe wat geld nie kan koop nie en waarin ewigheidswaarde lê,” verklap die ster. “Ek het besluit om dit ’n selfgetitelde album te maak, omdat die liedjies vasvang wie ek is. Dis amper soos ’n aankondiging wat sê: ‘Hier is ek, Wêreld!’.”

Die komende album, wat deur Joshua na die Reën en Jason Ferreira van LittleBig Studio vervaardig word en deur Stefan Swart vermeng is, bestaan uit 13 snitte wat sorgvuldig uitgesoek is om hierdie begaafde kunstenaar se talent ten toon te stel, die hartsnare te prikkel en jou onwillekeurig te laat saam neurie.

Die inhoud van die CD is ’n vars en indrukwekkende versameling van genres, wat Rock, Kontemporêre Wêreldmusiek (Liefde Wen en Afrika Grond) en Popmusiek insluit. Daar is ook ’n paar emosiebelaaide ballades soos Sielsvryheid.

Baie van die liedjies is uit die sangeres se eie pen en spreek temas aan waarmee almal sal kan vereenselwig. “Ek wil nie nét oor romantiese liefde of liefdesteleurstellings sing nie. Daar’s reeds soveel liefdesliedjies daar buite. Ek voel dis nodig dat ons oor meer as net dít begin praat in ons musiek,” vertel sy.

Haar man, Ryhno von Hagen, het ook tot die musiek en verwerking van die album bygedra en liedjies soos Geraas spog met ’n sterk orkestriële en klassieke aanslag. Gesoute kitaarspelers soos Nathan Smith en Andrew ‘Rixi’ Roman was betrokke by die skep van die agtergrondmusiek terwyl Joshua na die Reën ook sy klaviervernuf ten toon stel.

Die enkelsnit en haar strelende fluweelstem gaan nie net diep spore in die Afrikaanse musiekbedryf trap nie, maar is ook ‘die perfekte begin’ van ’n baie belowende solo-loopbaan vir hierdie talentvolle kunstenaar. Haar album word op 22 en 23 Julie 2017 amptelik by die Encore Teaterkompleks in Hatfield bekend gestel en beloof om luisteraars, van die eerste noot af, soos ’n warm winterskombers te omvou en weg te voer na ’n wonderland van luistergenot.

*Verskaf deur Danelle Liebenberg van Starburst Promotions.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Alberton Record: 060 644 5264 Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version