Sharoney stel haar nuwe enkelsnit vry

Die titelsnit, SKYN, is ook die eerste enkelsnit vanaf die nuwe album wat gedurende die week van 8 Mei vrygestel was.

SHARONEY het die afgelope paar jaar haar plek in Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers se harte losgesing.

Haar borrelende persoonlikheid en lekkerluister-popstem is die perfekte pasmaats vir haar splinternuwe album, Skyn. Hierdie nuwe vrystelling, uit die pen van ADAM en Vaughan Gardiner, is vars en modern en bestaan hoofsaaklik uit opgewekte dansmusiek – met lirieke en wysies wat luisteraars vir lank sal bybly.

Die titelsnit, Skyn, is ook die eerste enkelsnit vanaf die nuwe album wat gedurende die week van 8 Mei vrygestel was. Dit is Hugo Ludick en Gardiner se handewerk en is nie net sag op die oor nie, maar het ook ’n kragtige en inspirerende boodskap, wat aanklank vind by gehore van alle ouderdomme. “Hierdie liedjie is inpirasie om nie toe te laat dat die dinge van die wêreld ’n maatemmer oor die lig, wat jy uitstraal, sit nie; om jouself te wees en te glo in wie jy is as mens. Jy is jy en dis wat jou laat skyn,” sê sy. “Die snit beteken vir my so baie. Dit gee my eintlik ’n knop in die keel as ek daaraan dink en selfs wanneer ek dit sing. Ek het self al hindernisse teëgekom, wat ek nie gedink het ek sou kon oorkom nie. Deur genade het ek, en dit is nou my tyd om te skyn. Ek hoop en vertrou dat ek dit met elke tree van my lewenspad sal doen.”

KYK:

Die musiekvideo vir die enkelsnit is ook in die pyplyn en sy is baie opgewonde om saam met die span van Fathom Media daaraan te werk. Alhoewel sy nog nie te veel oor die eindbeplanning wil verklap nie, meen sy dat die storie wat in die video vertel gaan word, die tema van die liedjie perfek sal komplementeer. “Ons beplan om die musiekvideo in ’n industriële area te skiet en om sowat 60 ekstras en die silhoeëte van geboue en fabrieke in te span om die regte atmosfeer te skep en die video uniek te maak. Die hele proses voel vir my soos toneelspeel, so ek hou daarvan om op stel te eksperimenteer en my akteursvernuf uit te toets. Dis iets wat ek baie geniet,” deel sy.

“Ek wil graag hê dat my musiek ’n positiewe effek op luisteraars moet hê. Ek wil iets agterlaat wat ’n verskil kan maak, ander inspireer en deel wees van die oplossing. Die musiek moet aanklank vind by oud en jonk, en moet die tipe musiek wees waarna gesinne met vakansie kan luister, jonges by ’n kuierplek of om ’n braaivleisvuur kan speel en mense op kan dans – dit maak mos van ons Afrikaans.”

Sharoney het in 2014 die musiekwêreld amptelik betree toe haar eerste enkelsnit, Een Keer, wat deur ADAM se Ludik en Reynardt Hugo geskryf is, binne enkele dae die trefferleer begin klim het en sommer vir lank bo-aan al wat ’n treffersparade is, gekuier het. Die musiekvideo is net so goed ontvang en kan gereeld op kykNET, SABC 2 en ASTV gesien word.

KYK:

Kort daarna is haar debuutalbum, In Ons Fairytale, vrygestel en dit was ook ’n kitssukses wat aan haar in 2015 twee Ghoema-nominasies (Nuweling van die Jaar en Beste Pop-Album deur ’n Vroulike Kunstenaar), asook ’n benoeming vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning (Nuweling van die Jaar) besorg het.

*Vrygestel deur Danelle Liebenberg van Starburst Promotions.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Alberton Record: 060 644 5264 Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Exit mobile version