EntertainmentLifestyle

Moenie iemand op hul baadjie takseer nie

Gehore kan uitsien na die vrystelling van Daryne Joshua se regisseursdebuut,' Noem My Skollie', wat landswyd op Vrydag 2 September uitgereik word.

GEHORE kan uitsien na die vrystelling van Daryne Joshua se regisseursdebuut, ‘Noem My Skollie’, wat landswyd op Vrydag 2 September uitgereik word.

Die film wat afspeel op die Kaapse Vlakte en in Pollsmoor-gevangenis, is gebaseer op die lewe van draaiboekskrywer John W Fredericks.

‘Noem My Skollie’ vertel die verhaal van vier tieners, AB (Austin Rose) en sy drie beste vriende Gimba (Ethan Patton), Gif (Joshua Vraagom) en Shorty (Valentino de Klerk) wat in die armoedige bendewêreld van die Kaapse Vlakte grootword. Afgesien van hulle omstandighede probeer die kinders die bendes vermy wat hulle daaglikse lewens infiltreer, maar wanneer AB deur ’n traumatiese ondervinding gaan, besluit hulle om ’n bende te stig om hulself te beskerm.

Die vier vriende, wat nou soos broers is, pleeg nie ernstige misdade nie, maar ten spyte daarvan hou die polisie hulle dop in hul tienerjare en selfs as ’n groep gewilde jongmans. Uiteindelik word die ouer AB (Dann-Jacques Mouton) en Gimba (Gantane Kusch) gearresteer tydens ’n inbraak en word hulle tot twee jaar tronkstraf gevonnis. Dit is hier, in die gewelddadige omgewing van die tronk, dat AB besluit om sy talent vir storievertel te gebruik om die geharde misdadigers te vermaak en sy status te verhoog, terwyl Gimba, ’n ander pad inslaan om sy veiligheid te waarborg.

Wanneer AB uit die tronk vrygelaat word, gaan hy voort met die verhouding met sy vriendin, Jenny (Tarryn Wyngaard), en probeer gevolglik fokus op storieskryf om haar te beïndruk, maar sy bendevriende oortuig hom om ’n laaste keer weer by hulle aan te sluit, ’n besluit wat skokkende gevolge vir hulle almal het.

‘Noem My Skollie’ dra die tema’s van vriendskap, verraad, vergifnis, aanvaarding, die behoefte aan ’n beter lewe, hoop en liefde oor. Die titel van die film sinspeel op die ou gesegde dat ’n mens niemand op hulle voorkoms moet oordeel nie en bevorder die opvatting dat elkeen ’n talent het, selfs al is dit somtyds moeilik om te vind en is daar moontlik ’n prys daaraan gekoppel.

John W Fredericks het sy skoolloopbaan in sy tienerjare vaarwel geroep en het baie jare van sy jeug in die tronk deurgebring. Maar, hy het in sy sestigs daarin geslaag om ’n uitstekende draaiboek van wêreldgehalte te skryf.

Die film is in Afrikaans met Engelse onderskrifte.

Die kragtige klankbaan is deur die internasionaal erkende Kaapse musikant Kyle Shepherd gekomponeer. Shepherd het die Standard Bank Jong Kunstenaar van die Jaar Toekenning in 2014 gewen.

Die rolverdeling bestaan ook uit, onder meer, Christian Bennett, Gershwin Mias, Oscar Peterson, Abdu Adams, Peter Butler, Charlton George, Jill Levenberg, Denise Newman, Sandi Schultz, Andre Roothman, Paul du Toit en Irshaad Ally asook die talentvolle nuweling David Manuel wat die rol van die tronkbaas vertolk. Manuel was nog op parool toe die film gemaak is.

‘Noem My Skollie’ is vervaardig deur David Max Brown en Moshidi Motshegwa (Maxi-D Productions) in samewerking met M-Net, kykNET, die Nasionale Stigting vir Film en Video’s (NFVF) en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) en word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.

*Verskaf deur Alicia van Deventer van Starburst Promotions.

 

Related Articles

Back to top button