Kyk hier na lokprent van nuwe film, Uitvlucht

Hoogs suksesvolle skrywer, regisseur en vervaardiger Regardt van den Bergh se nuwe Suid-Afrikaanse film, 'Uitvlucht', word op 13 Mei landswyd uitgereik.

HOOGS suksesvolle skrywer, regisseur en vervaardiger Regardt van den Bergh se nuwe Suid-Afrikaanse film, ‘Uitvlucht’, word op 13 Mei landswyd uitgereik.

‘Uitvlucht’ vertel die verhaal van Anna (Clara Joubert van den Bergh), ’n konserwatiewe middelklasvrou wat met vuur speel en alles wat saak maak in haar lewe verloor. Tydens haar reis om self-ontdekking en vergifnis, kry sy werk by ’n plaasskooltjie met die naam Uitvlucht.

Stelselmatig begin sy herstel en besluit om die lewe weer vierkant in die oë te kyk en ontmoet in die proses ’n saggeaarde, alleenloper-boer, Dok (Stian Bam) wat haar bevriend en haar weer in haarself laat glo.

Sy ontdek ook weer haar rede om bestaan soos sy nouer betrokke raak by die kindertjies se geluk en hartseer en tree op as heldin in hul lewens teen die swaar in hul lewens, onder meer molestasie, hul ouers en ander familielede se drankmisbruik, die gemeenskap wat die wet in hul eie hande wil neem en mense wat geen ontsag vir ander se swaarkry het nie.

Anna vind die uitvlug waarna sy smag en op haar beurt bring sy uitvlug na die gemarginaliseerde skooltjie wat desperaat veg om voort te bestaan en ook na die gemeenskap wat slagoffers is van armoede en uitbuiting in haglike lewensomstandighede.

Uitvlucht is ’n ware plaasskool in die voetheuwels van die Suurberge in die Langkloof in die Oos-Kaap. Soos baie plaasskole is daar geen hulpbronne en moeilike sosiale uitdagings vir die gemeenskappe, soos alkoholmisbruik, kindermishandeling, ongeletterdheid en gesinsgeweld.

Regardt sê: “Om die egtheid nog meer te onderstreep, is daar by die Uitvlucht skooltjie self geskiet en met die skool se eie kinders. Hierdie leerders het ieder en elk verbaas met hul natuurlike spel en vrymoedigheid voor die kameras.”

Volgens die vervaardigers, “Praat die storie oor die ontsagwekkende grootheid van God se genade in die lewe van ’n gewone sondaar, en ook oor die bruin gemeenskappe op plase se stryd om ’n behoudende lewe te leef. Dis ’n storie van hoop in ’n hopelose situasie, genade in desperaatheid, en van liefde wat alles oorwin.”

Ander akteurs wat in die rolprent verskyn, is Jill Levenberg, Oscar Peterson, Lika Berning, Clyde Berning, Margot Luyt en Carel Trichardt.

‘Uitvlucht’ is vervaardig in samewerking met kykNET en die Industrial Development Corporation en is geskryf deur Regardt van den Bergh en Clara Joubert van den Bergh, met Vlokkie Gordon en Regardt van den Bergh as vervaardigers en Lika Berning as mede-vervaardiger.

Die rolprent word landswyd deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.

Loer hier na die amptelike lokprent:

Exit mobile version