Vir Altyd laat die rekords spat

Die nuwe Afrikaanse romantiese avontuurfilm Vir Altyd het meer as net gehore in vervoering gehad tydens sy openingsnaweek; die film het ook die rekords by die loket laat spat met ’n verdienste van R4,727,479 en is deur 89 731 mense gekyk.

DIE nuwe Afrikaanse romantiese avontuurfilm Vir Altyd het meer as net gehore in vervoering gehad tydens sy openingsnaweek; dié film het ook die rekords by die loket laat spat met ’n verdienste van R4,727,479 en is boonop deur 89 731 mense gekyk. Dit plaas die film amptelik in die voorste posisie vir die beste verdienste vir ’n Afrikaanse film tydens sy eerste naweek op die grootskerm.

Vir Altyd vertel die verhaal van Hugo (Ivan Botha) en Nina (Donnalee Roberts) wat saam as beste vriende grootgeword het, maar kontak verloor weens ’n hartseer gebeurtenis wat hul albei se lewens verander.

Na 10 jaar, sien Hugo en Nina mekaar weer op die vooraand van haar troue met Retief (Stiaan Smith), maar na haar sprokiesverhaal inmekaar tuimel, vertrek sy en Hugo Mauritius toe; sy, ’n teësinnige ‘bruid’, en hy wat van die begin af worstel met sy gevoelens vir haar.

Op die eiland besef hulle, na hulle op vele avonture gaan en twee ander paartjies op die liefdespad ontmoet, dat dit nie oor die gelukkige einde gaan nie, maar eerder oor die reis soontoe.

Na hierdie treffersnaweek, sê Ivan Botha en Donnalee Roberts, skrywers, mede-vervaardigers en hoofspelers van die film: “Ons is oneindig dankbaar vir almal se ondersteuning en wonderlike positiewe terugvoer. As filmmakers is daar geen groter eer as wanneer soveel mense met jou deel dat jou storie en karakters hulle laat saam lag, huil en voel het nie. Vir Altyd is ’n droom waaraan ons al vir twee jaar kliphard werk en dit is ’n voorreg om hierdie avontuur met julle te kan deel.”

Danie Bester, mede-vervaardiger van die film sê oor die loketsukses en die hele Vir Altyd-ervaring: “Die grootste kompliment en ook eer vir ’n rolprentmaker is as ’n gehoor na jou werk kom kyk, met jou storie identifiseer en jy die voorreg het om met mense te werk wat jou inspireer. Dit is fantasties.”

Vir Altyd sal deur jonk en oud geniet word. Ondersteuners van die film kan op sosiale media nie uitgepraat raak nie, met onder meer opmerkings soos, “Was die beste Valentynsdag-uitstappie saam my geliefde om die heel mooiste fliek te kyk” (Zeldine van den Berg), “My man en ek het vandag jul film gaan kyk en die trane het geloop. Die film se diepte herinner my net weer dat om ’n lewensmaat te vind, ’n voorreg is. Ek sal die fliek oor en oor gaan kyk” (Christelle van Wyk), en Maureen van der Merwe sê “Ons het vandag gaan kyk…ek en oupa het lekker gelag en ’n traan gestort…dit is ’n fantastiese film…ons beveel dit 110 persent aan vir almal…al die akteurs ek salueer julle…was lekker om te sien jonk en oud het daarna gaan kyk.”

Elize Cawood, Wilson Dunster, Illse Roos, Dirk Stoltz, Laré Birk, Deidre Wolhuter, Andre Jacobs, André Stoltz, Sans Moonsamy, Nicky de Kock en Caylem Else en Hèléne Truter is van die akteurs wat ook in die rolverdeling te sien is.

Die film is op 12 Februarie landswyd deur Ster-Kinekor, Nu Metro en onafhanklike teaters uitgereik. Verspreiding word behartig deur Ster-Kinekor Entertainment.

Vir Altyd is vervaardig deur 17FilmStreetMedia en The Film Factory.

Vir eksklusiewe agter-die-skerms foto’s en die jongste nuus, volg die film hier:

Facebook: https://www.facebook.com/viraltydfilm

Twitter: @VirAltyd

 

Exit mobile version