Local sportSport

Valke mik vir Uitdaagbeker

Hino Valke vier 70ste bestaansjaar.

DIE Hino Valke het hul visier vanjaar op die SuperSport Rugby Uitdaagbeker gestel.

“Ons sal eerstens die Noordelike afdeling moet wen en daarna die uitklopwedstryde om sodoende in die eindronde van die reeks te eindig,” het hulpafrigter van die Valke JP Immelman gesê.

Die nuwe reeks bestaan uit 14 provinsiale unies en Namibia se Welwitshias wat oor ‘n tydperk van 13 weke sal plaasvind. Die spanne is in drie afdelings – Noord, Suid en Sentraal ingedeel. Die SuperSport Rugby Uitdaagbeker skop af op 22 en 23 April.

Die Valke sal saam met van die voorste spanne in die Noordelike afdeling, soos die Blou Bulle, Goue Leeus, Pumas en Welwitscias, speel. Die voorste twee spanne van elke afdeling en die twee spanne met die meeste punte daarna op die punteleer sal in die kwarteindronde op Sondag 2 Julie speel. Die halfeindronde vind die week daarna plaas en die eindronde op Sondag, 16 Julie.

IN VALKE KAMP: Shane Kirkwood, wat voorheen ‘n leerling by Hoërskool Marais Viljoen, Alberton, was en by die Universiteit van Johannesburg studeer, is in die Valke se rugby groep ingesluit.

Die Valke het hul groep van 33 spelers reeds aangekondig waarvan elf jong spelers hul buiging in die groep maak. Die Valke sal vanjaar in besonder hul beste voet wil voorsit om sodoende ook hul 70ste bestaansjaar met oorwinnings op die rugbyveld te vier.

“Ons het verlede jaar op ‘n baie hoë noot die seisoen afgeskop en die Pumas op hul tuisveld geklop, maar hoe verder die span gevorder het, hoe minder het ons doelwitte behaal,” het Immelman gesê. “Daarom was dit vir ons baie belangrik om vas te stel waar ons as ‘n span verkeerd gegaan het. Met die inligting het ons daadwerklike veranderinge in die manier van oefen aangebring en ook hier en daar klein verstellings in die spel en kies van spelers gedoen.”

“Ons doelwit is om spelers op meriete te kies wat aan sekere vereistes van fiksheid sal voldoen. Daarom het ons so bietjie wyer gaan kyk om spelers in ons groep te kies wat bereid is om hard te oefen, maar ook om hul spelpatrone te wysig sodat hulle by ons nuwe spel by die Valke kan inpas.”

Die nuwe gesigte in die Valke se mondering is afkomstig van die onmiddelike klubs en omgewing en sluit, onder andere, heelwat jong spelers in.

Immelman meen dat die Valke vanjaar sy aanvallende spel gaan optooi met ‘n goedgefondeerde verdedigingstelsel. “Ons het so bietjie na die Nieu Seelandse spanne gaan kyk en gevind dat die patroon wat ons wil speel veral baat sal vind van die wyse hoe die huidige SuperRugby kampioen, die Hurricanes, speel,” het Immelman gesê.

“Ons het verlede jaar baie aanvallende spel op hoë intensiteit gespeel, maar ons verdediging het ons telkemale in die steek gelaat.”

“Dit is ook ‘n bekommernis dat ons tuiswedstryde afgestaan het en beplan om daarna te kyk en seker te maak dat ons tuis wen.”

Jan Enslin het verlede jaar sy rugby by Universiteit van Pretoria, Tuks, gespeel en het ook vir die Blou Bulle as haker uitgedraf. Ruan Allerston het naam op losskakel by die Sharks se junior spanne en Nelson Mandela Metropolitan Universiteit gemaak. Die losskakel, Christian Rust, wat tans in Spanje speel en een van die vondse is, sal hom in April by die Valke aansluit. Rust wat ook op heelagter kan uitdraf, het sy buiging by die Blou Bulle en Boland se juniorspanne gemaak.

AANWINS VIR VALKE: Christian Rust sal hom in April by die valke aansluit.

Spelers soos Gihard Visagie, Shane Kirkwood, Ernst Ladendorf, Reg Muller en Etienne Taljaard, vanuit Alberton, is ook reeds ‘n groot wins by die Valke.

Die Valke speel sy eerste vriendskaplike wedstryd teen die Blou Bulle op Vrydag 17 Maart, op Loftus Versfeld. Die volgende vriendskaplike wedstryd vind plaas op Saterdag, 1 April, teen die Goue Leeus, op Emirates Airlines Park, en ‘n derde wedstryd word teen Griekwas op Saterdag, 8 April, beplan.

Die Valke is ook op soek na alle oudspelers of beamptes wat by die Valke betrokke was. Kontak die kantoor by 011 975 2822 of admin@valke.co.za.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Alberton Record: 060 644 5264 Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Related Articles

Back to top button