Local sportSport

Alberton se eie rugby ikoon – Manie Reyneke

Tans is hy weer terug by die Albertonklub as voorsitter waar hy na die wel en wee toesien.

DIE idee om ’n dramareeks, Getroud met Rugby, te skryf, kon net sowel uit Manie Reyneke se eie draaiboek geleen word.

Manie, die voormalige hoof uitvoerende bestuurder van die Goue Leeus Rugby Unie (GLRU), se betrokkenheid by die rugby in die unie het 36 jaar gelede as speler begin toe hy die destydse Transvaal op skole- en o.20-vlak verteenwoordig het.

Dié langtermynverhouding kan egter skaars as maatstaf vir sy passie vir die sport gebruik word.

Na Manie van Union na Alberton Rugbyklub (vandag A-Square Forklift Alberton Rugby) verskuif het, gebeur dit toe dat een van die klub se belangrikste wedstryde op een van Manie se belangrikste dae val -sy troudag. Hoe nou gemaak?

Soos dit ’n haker betaam, met hul eiesoortige karakters, besluit Manie die liefde sal seëvier en die wedstryd sal voortgaan. Skaars is die strop om sy nek gesit of hy is af veld toe om sy eerste wedstryd as getroude man te speel. Alberton wen en Manie gaan vergesel sy gaste by die bruiloffunksie. Dié wen beteken toe wel dat Alberton die volgende Woensdag in ’n eindstryd moet speel en sy wittebrood moes noodgedwonge eers geskied na sy verpligtinge op die veld afgehandel is. En natuurlik was sy troukoek…’n rugbybal.

Met sy spelersloopbaan afgehandel het hy by Albertonklub se bestuur betrokke geraak en is sedert 1994 lid van die GLRU se bestuursraad en is in 2001 as voorsitter van dié raad verkies. In Augustus 2007 word hy aangestel as hoof uitvoerende bestuurder van die GLRU.

Manie het die leisels oorgeneem in sekerlik een van die moeilikste tye in die unie se geskiedenis, maar dit was ’n uitdaging wat hy nie skroom om aan te vat nie. Hoe seg groot oom Kevin de Klerk, president van die GLRU, “Hy het nog altyd meer hart as ‘size’ gehad.”

Sy mees gekoesterde rugby herinneringe was vir hom sy dae as speler by Alberton. “Dit was ’n groot eer en voorreg om weekliks langs spelers soos Kevin (de Klerk) te speel. En die samesyn tussen die spelers, dis een aspek wat ek baie mis. Dis ’n jammerte dat dit in die professionele era verlore gegaan het.”

Manie het in 1996 die eerste keer die grootbaas van Alberton geword en die pos vir vyf jaar beklee voor hy die klub se president geword het en daarna is hy na die Leeus toe.

Tans is hy weer terug by die Albertonklub as voorsitter waar hy na die wel en wee toesien.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button