Local sportSport

Wade Young wen seisoen se eerste Enduro

Eerste Enduro veldfietswedren afgehandel en die tweede is om die draai.

DIE huidige nasionale Enduro-titelhouer, die 17-jarige Wade Young (Brother KTM), het sy titel suksesvol begin verdedig deur die Liquorland Nasionale Enduro-motorfietskampioenskapseisoen se openingsren die afgelope naweek by Four Rivers Adventures in KwaZulu-Natal te wen.

Die Liquorland Champagne Valley Enduro sal nie net onthou word as ‘n taai ren waarmee die seisoen afgekop het nie, maar ook vir die hoë vlak van kompetisie wat ‘n uiters mededingingende seisoen voorspel.

As die verdedigende titelhouer was Young, wat ook die 200cc-kampioen is, eerste op die roete wat in die natuurskone Champagne Valley in die Winterton-omgewing uitgelê is. Daar was 11 uiteenlopende Spesiale Sneltrajekte – van ‘n kort grastrajek tot ‘n intensiewe 400 meter-trajek, wat vir uitstekende toeskouerwaarde gesorg het. Dan was daar ook twee langer Enduro-trajekte, waarvan een in die plantasies plaasgevind het en ‘n ander dieper in die berge. Dié trajekte het die ryers se fiksheid asook hul uithou- en ryvermoëns getoets. Young het die vinnigste tye tydens vier van die sneltrajekte aangeteken en het die tweedegeplaasde Altus de Wet (Cargo-Tac Husqvarna Factory Racing) met 78 punte (sekondes) geklop. De Wet het E2 (Oopklas) gewen ten spyte daarvan dat hy probleme met lekkende vurkseëls ondervind het en self ‘n lekkende verkoelerpyp ná ‘n valslag in die veld moes herstel. Hy het die vinnigste tye tydens twee trajekte aangeteken.

De Wet het ‘n plan met sy lekkende vurkseëls gemaak, terwyl hy gedwing is om die verkoelerpyp in die bos te herstel. Young se spanmaat (soos hyself ook nog ‘n skolier), Travis Teasdale, het die 2014-seisoen afgeskop soos hy die vorige een afgesluit het – op die podium. Teasdale was 29 punte agter De Wet en het twee van die sneltrajekte gewen om tweede in E1 (200cc-klas) ná ‘n probleemvrye ren te eindig. Hy was net 21 punte voor nóg ‘n Brother KTM-ryer, Scott Bouverie, wat die tweede plek agter De Wet in E2 ingeneem het. Die 2013-nasionale veldrenwenner, Kenny Gilbert (Proudly Bidvest Yamaha), het die algehele top vyf en die E2-podium afgerond en was 23 punte agter Bouverie ten spyte van ‘n gebuigde voorste remskyf.

Die Liquorland Champagne Valley Enduro het byna 60 inskrywings in E1 en E2 ontvang (dié deelnemers moet die hele roete bestaande uit 11 sneltrajekte voltooi), waarvan 41 deelnemers die ren kon klaarmaak. Dwayne Kleynhans (KTM) was elfde met James Hondson (Span Liquorland Yamaha) twaalfde algeheel.

Hodson het met ‘n geleende motorfiets deelgeneem nadat sy Yamaha ‘n meganiese probleem die aand voor die ren ontwikkel het, wat nie betyds opgelos kon word nie. Charan Moore het Span Kargo Racing Yamaha se beste resultaat aangeteken en was 13de algeheel (sy spanmaats, Timmy Young en KTM-ryer, Ross Blackwell, was onderskeidelik 16de en 27ste), terwyl Marc Torlage (Proudly Bidvest Yamaha) met die 14de plek tevrede moes wees, nadat sy motorfiets vroeg tydens die toetsende sneltrajek op hom geval het en ‘n sleutelbeenbesering laat opvlam het. Brett Lewis (Eddy2Race Husqvarna) was 15de, net een punt agter Torlage.

Ander ryers wat in die top 20 klaargemaak het, was Nicholas Pienaar (KTM), wat 17de geëindig het; Kyle Flannagan (TLB Plant Hire / Alfie Cox KTM), wat soos Teasdale en Scott ook nog tot laas jaar aan die Nasionale Juniorkampioenskap deelgeneem het, hy was 18de; Brandon se tweelingbroer, Travis Warwick-Oliver (Honda), wat 19de geëindig het en die skolier Henco Botha (Husaberg), wat laas jaar ook nog ‘n juniordeelnemer was.

Beide die Senior- en Meesterklasse het goeie inskrywings ontvang en ‘n paar nuwe ryers het ná ‘n uitdagende byeenkoms op die podium geëindig. Die verdedigende Seniorklaskampioen, William Gillitt (Liquorland Yamaha), was egter onstuitbaar en het sy seisoen met nóg ‘n oorwinning afgeskop ten spyte daarvan dat sy motorfiets ook vanweë die modder lekkende vurkseëls opgedoen het. Modder, meganiese probleme en deelnemers se fiksheidsvlakke het sommige deelnemers van alle ouderdomme gekniehalter.

Soos tydens die openingsronde van die 2013-seisoen, het Alfie Cox (KTM) wéér met die Meesterklaslouere weggestap, met die verdedigende kampioen, Denzil Torlage (Proudly Bidvest Yamaha), wat met die tweede plek tevrede moes wees. Dié resultaat voorspel ‘n opwindende aksie tussen die ‘Meesters’, wat almal ouer as 46 is. Dino Santoro het die derde vervaardiger op die podium geplaas deur derde met sy Beta te eindig terwyl Shaun Kirk, wat óók met ‘n Beta deelneem, vierde was. Richard Cunniffe (Yamaha) het die top vyf afgerond.

Jong deelnemers tussen die ouderdomme van 14 en 16 jaar het vir die eerste keer in die nuwe Hoërskoolklaskampioenskap deelgeneem, met Chayse Orsmond (TLB Plant Hire / Alfie Cox KTM), wat ‘n stukkie geskiedenis gemaak het deur dié klas vir die eerste keer te wen. Bradley Coulthard (KTM) was tweede met Eduan Bester (NUTS Racing / Century Civils Yamaha), wat die podium van ‘n ren afgerond het, waar die jong ryers bewys het dat hulle hul man onder moeilike omstandighede kan staan.

Drie skoliere was ook op die podium van die Silwerklasuitdaging, waar 17 deelnemers van alle ouderdomsgroepe van die aanvanklike 26 die ren kon voltooi. Kokstad se Dylan Barker (Pa Ma Racing Yamaha), wat laas jaar tweede in die 125cc-klas van die Nasionale Juniorkampioenskap geëindig het, het gewen met die Oos-Londenaar, Sage McGregor (KTM), wat laas jaar tweede in dié klas was, tweede. Reghardt van Niewenhuizen (KTM) van Ladybrand was derde.

Kirsten Landman (Brother KTM) was die enigste vroulike deelnemer in die nasionale afdeling wat die ren kon voltooi – sy was 12de in dié klas. Toni Jardine (KTM) moes weens meganiese probleme die aftog blaas.

Deelnemers het nou net minder as ‘n maand om vir ‘n nuwe uitdaging voor te berei – ‘n dubbele ren wat Vrydag 21 Maart en Saterdag 22 Maart by Ashton in die Wes-Kaap plaasvind. Die Ashton National Enduro vorm die tweede en derde rondes van die Liquorland Nasionale Enduro-kampioenskap en sal as twee afsonderlike renne tel. Dit sal die eerste keer wees dat Enduromotorfietsdeelnemers op twee agtereenvolgende dae deelneem. Dié byeenkoms word deur CSMX georganiseer en sal weer by die La Mont Deli net langs die R60 in the Ashton / Bonnievale-omgewing in die Wes-Kaap plaasvind.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button