Local newsNews

Blink toekoms wag vir top student

Hy het groot drome vir die toekoms. Hy begin vanjaar as 'n student in B.Ing (Rekenaars) aan die Universiteit van Pretoria.

HARDE werk het hom agt onderskeidings in die sak gebring verlede jaar.

Verder is Jaco Coetzee, ’n 2015 matrikulant aan Hoërskool Marais Viljoen, aangewys as die leerder wat algeheel die agtste beste prestasie in die eksamen in Ekurhuleni behaal het tydens Ekurhuleni se prysuitdelingsfunksie vir toppresteerders in die 2015 matriekeindeksamen. Boonop is Jaco ook aangewys as die toppresteerder in Ekurhuleni vir inligtingstegnologie.

Hierdie prestasies waarvoor hy op 27 Januarie vereer is, is baie besonders aangesien die verskil tussen die top twee tot top agt in Ekurhuleni minder as een persent was.

In 2015 sluit hy sy skoolloopbaan af met onderskeidings in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, inligtingstegnologie en rekenaartoepassingstegnologie.

Dié beskeie jong man skryf sy sukses toe aan die goeie gene wat hy by pa Martin (’n elektriese ingenieur en besturende direkteur) en ma Waltia (’n lektor) geërf het.

En hy droom groot drome vir die toekoms wat hy vanjaar as student in B.Ing (Rekenaars) aan die Universiteit van Pretoria gaan begin. “Ek wil my meestersgraad voltooi en dan ondervinding by my pa se onderneming kry voordat ek my eie besigheid begin.”

’n Welverdiende Desembervakansie was vir Jaco ’n opwindende 4×4 toer in Suider-Afrika wat hy as natuur- en buitelugliefhebber terdeë geniet het. As die jong man nie agter die boeke sit nie geniet hy dit om gholf te speel, en ook, soos baie ander jong mense, agter rekenaarspeletjies vas te haak.

Sy lewensfilosofie is eenvoudig: “Alles wat die moeite werd is om te weet, is logies,” sê Jaco.

Marais Viljoen is trots op hierdie jong presteerder en wens hom alle sukses met sy studies toe.

Related Articles

Back to top button