GALLERY: Alberton se eie voorbladnooi

Schané was in skok toe sy as wenner aangekondig is. “Ek kon dit glad nie glo nie. Ek het seker vir 10 minute met my mond oopgestaan, die aankondiging het net nie ingesink nie."

MEYERSDAL se Schané Venter is onlangs as Sarie se voorbladgesig wenner aangewys en die RECORD het gaan kuier om oor haar ervaring te gesels.

“Die laaste deel van die kompetisie was baie opwindend. Dit was ongelooflik om te ervaar hoe passievol mense en tydskriflesers oor die kompetisie is en hoe hulle die finaliste ondersteun.

“Die September uitgawe van Sarie was bitter spesiaal, al 10 finaliste was vir die eerste keer bekendgestel in ware voorbladstyl.

“Dit was ook wonderlik om te ervaar hoe passievol die Sarie-span oor die kompetisie is en hoeveel tyd en moeite hul in die proses en kompetisie sit om dit vir die finaliste ’n interessante reis te maak,” het Schané vertel.

Een groot bederf

Die 10 finalsite was ’n dag voor die gala-aand Kaap toe gevlieg.

Schané vertel dit was so lekker om weer tyd saam die ander vroue te spandeer en lekker te kuier.

Hulle het tyd in die tydskrif se kantoor spandeer en die dames het pas-sessies saam met Fanie Cronjé, Sarie se stilis, gehad om die perfekte stad-sjiek uitrusting bymekaar te sit vir die gala-aand.

Bacher & Co het ook ’n baie interessante inligtingsessie aangebied waar hulle alles en nog meer oor parfuum geleer is, en natuurlik nog vele ander bederfies.

Die dag van die gala was propvol pamperlang.

Hulle het afgeskop met ’n ontbyt en daarna moes hulle by die haar- en grimeerskedule hou.

Heel aan die einde van die aand was die wenner aangekondig in die vorm van ’n digitale video wat die voorblad bekend gestel het op al die TV skerms in die onthaallokaal.

“My storie word vertel”

Schané vertel sy was in skok toe sy as wenner aangekondig is.

“Ek kon dit glad nie glo nie. Ek het seker vir 10 minute met my mond oopgestaan, die aankondiging het net nie ingesink nie.

“Toe Michelle (die redakteur van Sarie) die eintlike tydskrif in my hand sit, toe tref dit my: ‘Schané, jy het gewen. Hulle het jou gekies as die Oktober voobladgesig.’

“Daardie aand het die woord ‘onbeskryflik’ vir my ’n nuwe betekenis en gevoel gekry. Dit is een van die grootste voorregte wat ek al ooit in my lewe ervaar het.

“Wat vir my die meeste uitgestaan het was om te besef dat hulle my, Schané Venter, gekies het om my storie met hulle lesers te deel. Dat my storie deur honderde duisende lesers gelees gaan word en ek hoop dat dit ten minste een van die lesers sal inspireer en weer hoop sal gee.”

Vier jou vrouwees

“Daar is basiese fasette wat ’n rol speel om te wen, maar wat uitgestaan het is hoe elke finalis gevier is – haar storie en haar skoonheid.

“Dit is meer as net een faset, dit is die volle pakket. Dit is ek as vrou in geheel waarna hul gekyk het en hoe ek die vroue van Suid-Afrika kan inspireer en hoop gee,” het sy vertel.

“Dit was so verfrissend om te beleef hoe 10 vroue, wat eintlik in kompetisie met mekaar is, soveel respek vir mekaar het en heeltemal vergeet het dat ons almal eintlik meeding en net een wnner kan gekies word.

“Ons is as 10 wildvreemde vroue aan mekaar voorgestel, in een kamer gesit en ons het wegstap met ’n ervaring dat ons elk nege vriendinne ryker is,” het Schané bygevoeg.

Verder sê Schané sy moes ’n kopskuif maak.

“Ek moes myself oor en oor herinner dat ek nou aan die ander kant van die kompetisie is, dat ek ’n finalis is vir die Voorbladgesig 2019 kompetisie.

“Ek is altyd aan die ander kant, agter die skerms, besig om ander mense te laat skyn en te help en om hulle drome waar te maak.

“Hierdie proses het my geleer dat dit oukei is om jouself te vier en om vir ’n oomblik stil te staan en te besef hoe ver jy al gekom het, om alles weer te onthou waar deur jy moes werk in jou lewe en te sien hoe sterk dit jou gemaak het.”

Herlaai jouself

Schané voel dat vroue die eintlike heldinne in vandag se samelewing is en dat vroue, deur net hul storie te deel, soveel mense se lewens kan aanraak en hulle weer hoop en moed kan gee om net weer te probeer.

Schané sê dat een van die belangriskte dinge van vrouwees is dat jy ongeag jou veeleisende lewe moet tyd maak vir dinge wat jou gelukkig maak, wat jou weer herlaai.

“Daar word soveel van vroue verwag deur ons beroep, familie, ons persoonlike lewens. As jy nie jouself van tyd tot tyd gaan herlaai nie, gaan jy nie kan volhou om alles vir almal anders te wees nie.

“Dit maak my gelukkig om mooi aan te trek en mooi te voel. My passie vir mode en klere inspireer my om elke dag moeite met myself te doen. Dit is my manier om myself te bederf.

“Ek hou ook daarvan om rond te speel met verskillende modes en om pret daarmee te hê. Alles van vrouwees maak my gelukkig.

“Ek sien elke oggend uit om reg te maak vir die dag, my hare te doen, my grimering te doen en ook my uitrusting vir die dag te kies.”

Vat ’n kans

“My vriend het my letterlik op die nippertje voor die sluitingstyd van die kompetisie ingeskryf en kyk hoe het dit vir my uitgedraai.

“Vat ’n kans, skryf in. Dit gaan nie oor of jy mooier as ander is of water tipe klere jy dra nie. Dit gaan oor jou as vrou en jou storie, dit is al.”

Schané is baie opgewonde om te sien wat die res van die jaar inhou.

“Ek is terselfdertyd so dankbaar vir hierdie groot voorreg, dat ek dit vir eers net inneem en geniet.

“Ek sal in November besluit wat volgende is. Nou fokus ek op Oktober en geniet elke oomblik om op die voorblad van die grootste vroue tydskrif in SA te wees en my storie met almal te deel.”

GALLERY: 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version