EntertainmentLifestyle

Posduif onthou wat belangrik is in nuwe enkelsnit

“Dit is belangrik om te onthou wat regtig saakmaak in die lewe en om dankbaar te wees.

“Die liedjie gaan oor die mense (familie en vriende) in jou lewe en om elke dag te waardeer wat jy het,” verklap multikulturele musiekgroep Posduif oor die betekenis agter hulle nuutste enkelsnit, wat beslis die hartsnare gaan prikkel.
Herinner My was ’n spanpoging tussen James Boland, Nick Jordaan, Sheldon Sham en Leeroy Sauls en is deur Brendan Campbell vervaardig en deur Hugo Ludik, van Muse Studios, gemeng.

Onthou die goeie dinge

“Ons het dit geskryf net nadat my suster oorlede is. Dit was die oorspronklike inspirasie vir die liedjie, maar dit is vir ons elkeen geskryf en is veral in hierdie tye van toepassing op almal,” het kitaarspeler en hoofsanger James Boland gesê.
“’Herinner my om elke dagbreek te waardeer’ is iets wat ons partykeer vergeet wanneer ons so gefokus is op al die moeilike en swaar tye.
“Die idee is om luisteraars te herinner om dankbaar te wees vir diegene wat nog by hulle is, asook om die mense te onthou wat nie meer hier is nie en dankbaar te wees vir die tyd wat jy wel saam met hulle gehad het.”
Hoewel hierdie popsnit in die styl en voetspore volg van sy inspirerende voorgangers is dit daarop gefokus om met aanhangers se harte te praat, hulle dieper te laat dink oor die lewe en troos te bring in hartseer tye.
“Wanneer jy Herinner My luitster is dit jou liedjie, jou storie, jou geliefdes en ons hoop dat almal betekenis daaruit sal kry. Dit gaan oor dankbaarheid en liefde en dit is iets wat elkeen van ons nodig het,” het hulle gesê.
’n Musiekvideo van die snit sal ook binnekort beskikbaar wees.

Unieke klank

Herinner My is die groep se vierde enkelsnitvrystelling en volg kort op die hakke van Laat Val Die Water wat baie goed ontvang is en vir weke lank bo-aan verskeie treffersparades gepronk het.
Die musiekvideo kan ook steeds gereeld op die kassie gesien word.
Posduif is in 2018 gestig en het die musiekbedryf betree met die enkelsnit en musiekvideo Brandy Special, wat deur meer as 300 000 mense gesien is, gevolg deur hulle tweede enkelsnit en musiekvideo Een Vir My, wat net so goed ontvang is.

Dié ensemble is ook reeds deur Bok Radio genomineer as Groep van die Jaar en Laat Val Die Water was genomineer vir Liedjie van die Jaar.

Die groep bestaan grotendeels uit lede van die gewilde musiekgroep Rubber Duc – Jordaan, Amiel Gopal (baskitaarspeler), Kabeey Sax (saksofoonspeler en Alberton inwoner), Leeroy Sauls (dromspeler) en Brendan Campbell (vervaardiger en hoofkitaarspeler), met die toevoeging van Boland as voorsanger.
Wat hulle so geliefd en uniek maak, is die feit dat hulle so divers is en almal verskillende musiekinvloede het en dat dit alles op ’n manier gekombineer word om ’n unieke klank weer te gee.
Volgens Boland is dit juis hulle verskille wat Posduif interessant maak.
“Ons het almal verskillende voorkeure en idees as gevolg van ons verskillende kulturele agtergronde. Ons is waarlik ’n multikulturele groep in elke sin van die woord,” het hy gesê.

Na die Covid-19 grendelgreep

Hoewel Covid-19 en die grendeltydperk dinge effens kom deurmekaar krap het, kon hulle nog ’n paar nuwe liedjies voltooi en hoop die sesmanskap om later vanjaar hulle debuut-album vry te stel.
“Ons is almal so besig soos wat ons kan wees en tussen musiekskryf, beplanning, bemarking en ander werk deur spandeer ons ook tyd saam met ons geliefdes,” het Boland gesê. “Ons werk ook hard aan projekte en planne vir die volgende paar maande waartydens lewendige optredes nie moontlik gaan wees nie.”
Herinner My bevat al die nodige bestanddele van ’n groot radiotreffer en gaan beslis vir dié gewilde groep nog ’n paar nuwe aanhangers inpalm.
Dit is ’n hartroerende verwerking met ’n lekkerluister wysie en betekenisvolle lirieke wat luisteraars lank sal bybly nadat hulle dit vir die eerste keer gehoor het.

Die liedjie is beskikbaar op alle digitale platforms hier: https://smarturl.it/herinnermy

Sosialemediaskakels
Facebook: https://www.facebook.com/PosduifLive/
Instagram: @posduif_live
Twitter: @Posduif14
Webblad: https://posduif.live/

Related Articles

Back to top button