Local newsNews

Vier skrywers, vier boeke

Vier nuwe lekker-lees boeke wag vir die boekwurms op die rakke.

NEE kyk, as die gedrukte woord eers in jou bloed is dan loop ’n naweek se terugsit en ontspan met ’n goeie boek soos ink deur jou are.

Wat ’n lekkerte was dit dan om vier skrywers onder een dak te kan ontmoet met die bekendstelling van hul nuwe boeke. Op Vrydag 27 Mei het twee skrywers uit Alberton-bodem, Anton Pienaar en Johan Pretorius, hul nuwe boeke saam met twee ander skrywers, Mariqi Nell en Francois Stemmet, by The Art Farm bekendgestel.

Francois het die verrigtinge op ligte luim geopen waarna elk van die skrywers so ietsie oor hul boeke kon vertel.

Anton se boek, ‘Swartson’ is ’n sielkundige spanningsverhaal. Die idee van die boek is in ’n kettingwinkel gebore toe hy vertel is dat die persoon met die groot stem, wat die aankondigings maak, eintlik ’n dwerg is. “Daar het ek gedink hier is ’n storie. ’n Klein mensie wat sy stem groot maak. ‘Swartson’ handel oor ’n dwerg wat van geboorte af verwerp is. Sy pa kon hom net nie aanvaar nie en sy ma, ’n mooi vrou maar ook ’n loskop wat gedink het sy kan alles met haar skoonheid regmaak, het nie veel tot sy lewe en aanvaarding bygedra nie.

“Hierdie verwerping het daartoe gelei dat die karakter ’n fiktiewe tweelingbroer in sy lewe verwelkom het. Een wat vir niks teruggestaan het nie en so het die reeksmoorde begin,” het Anton gesê.

As blinde skrywer het Anton sy boek in Braille geskryf en met hulp van tegnologie, is die boek ook in druk uitgegee. Anton is ook besig om die boek deur middel van Bandhulp vir Blindes op te neem en het 15 jaar aan sy boek gewerk.

Johan Pretorius, afgetrede pediater in Alberton, se ‘Die Dare’ is ook bekendgestel, Hierdie is Johan se derde boek en handel oor een van daardie meisies op universiteit wat al die ‘tools’ het om enigiemand te laat instem tot haar versoeke. “So word sy gedare om die grootste nerd te vra om saam plaas toe te gaan en al die repurkussies vir haar en haar familie wat daarmee saamgaan,” verduidelik Johan.

Mariqi Nell, wat eintlik ’n skildenaar is, se skrywery het so met die skilder saam begin. “Wanneer ek besig is met ’n skildery sal ek dit op Facebook sit en so sal ons almal saam oor die karakter in ’n skildery begin gesels – dit is dan ook hoe die storie vorm aanneem.” Mariqi se ‘Waarom varke nie pêrels dra nie’, is ’n boek vol lewenslesse, sketse, stories, gedigte en skildery.

Vir Francois is gemaklik skryf wat sommer net lekker lees die antwoord. Sy boek ‘Tanja’ het sy ontstaan in die 70s en is oorspronklik vir die radio geskryf. Hy vertel dat die radioteks vir baie jare gelê het en toe hy dit optel om in boekvorm te verwerk was sy bedoeling nie om ’n letterkundige reus vry te stel nie, maar ’n boek wat net lekker lees. ‘Tanja’ handel oor ’n jong vrou wat in opstand is teen haar ma se magsbeheptheid en in twee geskeur staan. Aan die een kant is daar haar verantwoordelikheid om haar man teen haar ma te staan en aan die teenkant die wroeging of sy haar ma moet bystaan met haar probleem. Vir die leser wag heelwat intriges, verhoudings wat skeefloop en familiebotsings.

Aan die boekwurms, maak seker jy kry jou kopieë, trek die bank in die winterson en maak jouself gereed vir pure leesgenot.

Lees meer oor Anton Pienaar, hier:

Anton staan vir niks terug nie

‘n Aand vol leesgenot

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button