EntertainmentLifestyle

Lokprent vir nuwe rolprent bekendgestel

Hierdie tweetalige (Afrikaanse/Engelse) drama fokus op die gebroke verhouding tussen ’n pa en sy rebelse tienerseun.

DIE lusmaker lokprent vir die unieke Suid-Afrikaanse rolprent, ‘My Father’s War’, is op 16 Mei bekendgestel.

Hierdie tweetalige (Afrikaanse en Engelse) drama fokus op die gebroke verhouding tussen ’n pa en sy rebelse tienerseun.

Die rolprent speel in 2003 af en die 19-jarige Dap Smit (Edwin van der Walt), baklei aanhoudend met sy pa, Dawid (Stian Bam), ’n veteraan van die Grensoorlog.

Die mans stem oor niks saam nie en daar is klaarblyklik geen hoop op versoening tussen hulle nie. Boonop is Dawid se vrou, Karina (Erica Wessels), in die middel van hul epiese worsteling vasgevang.

Dan kry Dap ’n reeks drome waarin hy ’n gevegsoldaat tydens die Grensoorlog in die 1980’s is. Daar ontmoet hy sy pa op sy ouderdom, en hierdie drome verander Dap se persepsie – en lewe – heeltemal. Daar is nie terugkeer nie. Maar wat is die pad vorentoe?

Die rolprent kombineer die tema van ’n gebroke verhouding met dié van die Grensoorlog. Droomtonele is geskep en oorbrug die gaping selfs al het die oorlog feitlik 30 jaar gelede plaasgevind. Regisseur Craig Gardner sê: “Elke droom is geskep om die ontvouende storie te onthul. Dus is daar nie enige ongeoorloofde vegtonele nie. Die oorlogsdrome is eerder mikrokosms van regte gebeure wat by fiksie aansluit om óf die karakters óf die storielyn te bevorder – klein ‘mini-stories’ – binne die groter verhaal.”

“Die oorlog is as ’n kreatiewe instrument gebruik om die storie van die pa en seun tot ’n uitkoms te dryf. Ons het met opset nie ’n morele standpunt oor die konflik self gelewer nie. Hierdie is nie ’n Grensoorlog-rolprent nie – dit is ’n verhoudingsdrama, wat die kern van feitlik elke suksesvolle fliek is.”

Die fliek sal aanklank vind by ’n wye publiek, maar ook by elkeen wat deur die oorlog geaffekteer is insluitend soldate, vroue, mans, kinders en ouers. Dit sal herinneringe oproep, spoke wegdryf en help om meer begrip vir kykers te gee selfs diegene wat niks met die oorlog te doen gehad het nie. Enige ouer en kind sal aanklank vind by hierdie rolprent op ’n persoonlike vlak.

Ander akteurs wat ook in die fliek te sien is, is Neels Clasen, Hannes Muller, Meren Reddy, Fumini Shulubana, Jai’prakesh Shewram, Vian Singleton en David Rees.

‘My Father’s War’ word op 5 Augustus landswyd in filmteaters vrygestel en word vervaardig deur Lion Mountain Films en word uitgereik deur Ster-Kinekor Entertainment.

Kyk die lokprent hier:

*Verskaf deur Alishia van Deventer van Starburst Promotions.

 

Related Articles

Back to top button