Local newsSport

Adele hardloop tweede Comrades met ‘n lied in haar hart

“My doel was om ‘n top vyf posisie te behaal, maar wat vir my nog altyd belangrik was, was die tyd. Ek wou graag op my tyd verbeter het van verlede jaar. Om onder 6 ure te kon klaarmaak is vir my ‘n hoogtepunt saam met die tweede plek."

Met ‘n lied in haar hart het die Potchefstromer, dr. Adele Broodryk, na ‘n briljante tweede plek gehardloop in die 2023 Comrades Marathon vanaf Pietermaritzburg na Durban wat Sondag, 11 Junie plaasgevind het.

Broodryk vertel met blydskap in haar stem hoe sy haar eie verwagtinge oortref het met die sesde vinnigste tyd in Comrades geskiedenis – ‘n merkwaardige 5:56:26.

Adele Broodryk op pad na die eindstreep en tweede plek algeheel in die 2023 Comrades Marathon op Sondag, 11 Julie. Foto: Verskaf.

“My doel was om ‘n top vyf posisie te behaal, maar wat vir my nog altyd belangrik was, was die tyd. Ek wou graag op my tyd verbeter het van verlede jaar. Om onder 6 ure te kon klaarmaak is vir my ‘n hoogtepunt saam met die tweede plek. Ek het met ‘n lied in my hart gehardloop,” sê Broodryk.

“Ek het baie goed gevoel by 45 km en toe besluit om net op gevoel verder voort te gaan. Ek was vir ‘n lang ruk derde en het toe opgeskuif tot tweede,” noem sy.

Hierdie Nedbank-atleet is ‘n senior lektor in menslike bewegingskunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU). Sy is ook baie geheg aan haar gesin en familie. Haar man, Retief, hul kinders en haar familie, was ook daar om die oomblik by die wenstreep te deel.

“Om daardie finale paar meter te hardloop met almal wat jou toejuig en aanspoor is iets onbeskryflik. Dit was baie spesiaal dat my man en kinders ook daar kon wees. Daardie laaste paar meter dra die adrenalien ‘n mens,” vertel sy.

Vanjaar was Broodryk se tweede Comrades na sy verlede jaar in haar debuut ‘n derde plek behaal het. Volgens haar was hierdie jaar baie gemakliker, aangesien haar voorbereiding baie beter was.

“Verlede jaar kon ek skaars loop na die tyd en nou voel ek goed. Ek het baie tyd met oefenprogramme onder Nick Bester ingesit. Daar was ook ‘n oefenkamp in Dullstroom wat my goed voorberei het,” vertel sy. Sy voeg ook by dat die veld vanjaar besonders sterk was, maar dat die ondersteuning langs die pad haar ook veral gehelp het.

“Die ondersteuners was oral op die roete gewees. By Kingsmead by die wenstreep was hulle ook naby die atlete, so dit het vir ‘n meer intieme atmosfeer gesorg.

Ek is ook dankbaar vir almal in Potch, veral in Grimbeekpark waar ek woon, wat my so mooi ondersteun. Al die ondersteuning motiveer my.”

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button