Local newsSport

Carletonville vegters presteer nasionaal

Skopboksers en gemengde gevegskuns (mixed martial arts of MMA) vegters van Carletonville het die afgelope paar weke tydens twee nasionale kompetisies presteer.

Verskeie lede van die XKT Fight St MMA and Kickboxing Club het van 27 tot 29 April aan die nasionale skopboks kampioenskap in Lephalale (die ou Ellisras) in Limpopo deelgeneem. Meer as 400 vegters van regoor die land het tydens die byeenkoms vir top posisies en plekke in die nasionale span meegeding.
Die klub se afrigter, Shihan Chimmy van Winkel, het self twee goue trofeë in kick light en semi ingepalm. Sumari-May Eddy het ook twee goue trofeë, in continuous en kick light, huis toe gebring. Charmaine Rabbolini het ook ‘n goud in kick light sowel as ‘n brons in punte gewen. Nóg ‘n vegter wat ‘n goud huis toe gebring het, was Albert Wright vir kick light.
Hy het ook ‘n silwer trofee vir continuous en ‘n brons trofee vir punte gewen.
Kaiden Viljoen het ‘n silwer vir punte en brons vir kick light gewen, terwyl Tyron Fernandez ‘n silwer vir volkontak en Dewald Greyling ‘n silwer vir kick light en ‘n brons vir semi gewen het.
“Ons klub, sowel as vegters van elders in die Wes-Rand, het uitstekend presteer,” sê Shihan Van Winkel, wat ook die afrigter van die Wes-Rand span is.
Hy noem dat van die groep presteerders vir die nasionale span óf die Presidentspan gekies kan word.
Hoewel dié keuses nog nie bekend is nie, is die skopboksers reeds besig om hulle vir hul volgende toernooi, die Great North 2 op 27 Mei in Vanderbijlpark, voor te berei.
Intussen het die klub se top MMA vegters van 3 tot 6 Mei aan dié sport se nasionale kampioenskap in Edenvale deelgeneem. Ongeveer 300 vegters het hier kragte gemeet.
Emma Golden en Maxi van Winkel het goue medaljes verower terwyl Jordan Mitchell, Jason Malan en Kenneth Golden silwer medaljes en Megan Golden, Alex Tuz en JT Tuz bronsmedaljes ingepalm het.
Emma, Maxi en Jason is vir die nasionale span gekies wat later vanjaar aan die wêreldkampioenskap in Dubai gaan deelneem.

Die skopboksers wat medaljes tydens hul nasionale kampionskap ingepalm het, is voor Kaiden Viljoen, Chimmy van Winkel en Sumari-May Eddy. Agter is Charmaine Rabbolini, Tyron Fernandez, Albert Wright, Dewald Greyling en Maxi van Winkel (afrigter)

Die MMA vegters wat by hul nasionale kampioenskap medaljes verower het is voor: Megan Golden, Emma Golden en Jordan Mitchell. In die middel is Alex Tuz, Jason Malan en Maxi van Winkel. Agter is Shihan Chimmy van Winkel (Gauteng-afrigter), Kenneth Golden en JT Tuz.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button