BlogsOpinions

Alles is deesdae in ons omgewing moontlik – Wysneus

Ou Wysneus het weer die afgelope week van baie ongewone dinge hier in ons ou dorpie gehoor.

Ou Wysneus het weer die afgelope week van baie ongewone dinge hier in ons ou dorpie gehoor.

Wysneus hoor dat mense wat in die omgewing van die kerk op die hoek van Reyneke- en Pyritestraat woon, deesdae net hul koppe skud. Die rede hiervoor is dat iemand, niemand weet wie nie, toestemming gegee het dat ‘n eet- en kuierplek wat selfs, hoor Wysneus, deur die dag baie mense lok, regoor die kerk geopen is.

Nou raas die mense van die kuierplek blykbaar soveel dat niemand weet of die arme kerkgangers darem hul predikant kan hoor of nie.

Intussen het Wysneus self ‘n paar vraagtekens in sy kop gehad toe hy Maandag deur Ernsstraat in Carletonville ry en skielik opmerk dat ‘n reusebus die een sypaadjie blokkeer het. Wysneus kan onthou hoe inwoners van dié omgewing ‘n paar jaar gelede gekla het dat iemand in die omgewing se busse die hele wêreld vol staan.

Hoewel die probleem nou duidelik nie meer so erg is nie, wonder Wysneus nog steeds hoekom die bus op die sypaadjie staan en hoe lank dit daar parkeer is. Sover as wat Wysneus nog kan onthou, is sypaadjies vir voetgangers ensovoorts bedoel.

Of dalk, met dié dat voetgangers deesdae, lyk dit vir Wysneus, dink dat die teerstrate aan hulle behoort, het die eienaars van die bus gedink dat hulle dan maar die sypaadjie sal oorneem.

Wysneus het hom skaars klaar aan die bus verkyk toe hy amper sy karretjie omgooi toe sy oog iets anders vang. Sover hy kan onthou, is politieke partye veronderstel om hul plakkate binne ‘n sekere tyd na ‘n verkiesing van die openbare plekke waar dit aangebring is, af te haal.

Wel, dit lyk vir Wysneus of wie ookal vir die nakoming van dié reël in ons omgewing verantwoordelik is, duidelik dink dat dit nie op Carletonville van toepassing is nie. Hoewel ons al weer amper by die volgende verkiesing is, is daar plakkate van ons liewe president en sy party op verskillende plekke op die substasie skuins oorkant die bus op die sypaadjie geplak.

Die feit dat dit al baie lank daar is, kan gesien word aan die gelaatskleur wat ons arme president op die plakkate het. Sover Wysneus so in die ry kon sien, is die arme man nou wasbleek in die son verbleik. Hy is só bleek dat dit lyk asof hy nou net gehoor het dat SARS hom in een jaar vir al die opgraderings aan sy vesting by Nkandla aangeslaan het. Indien ‘n mens op die inligting van dié plakkate moet gaan, het ons land se regerende party se kleure ook van heldergeel, swart en groen na wit en só ‘n half-verbleikte ligblou verander.

Wel, aangesien die kans dat onse president ooit vir die opgraderings by Nkandla aangeslaan gaan word, bykans net so skraal is as wat Wysneus vinnig geld vir ‘n groot brandvoorkomingspoel, oftewel swembad, in sy agterplaas gaan kry, verwag Wysneus ook dat wie ookal vir die plak van die plakkate verantwoordelik is, seker niks gaan oorkom nie. Wysneus verwag inteendeel dat politici seker net voor die volgende verkiesing maar net nog plakkate bo-oor dié van ons verbleikte president gaan plak.

Related Articles

Back to top button