Local newsNews

Perderedders van formaat

Die Highveld Horse Care Unit in Meyerton wat ook al perde in die Carletonville-omgewing gehelp het, gee om. Hulle red perde, dokter perde en maak seker hul kry goeie huise. Na 'n veldbrand het hul hulp nodig. Lees meer...

Skade van sowat R32 000 is Donderdagaand in ‘n veldbrand aangerig wat tot teenaan die Highveld Horse Care Unit se gronde gewoed het.

Al die personeel het ingespring om die diere uit die gevaar te kry en die vuur te help blus. Teen Vrydagoggend was die skade duidelik.

Die geëlektrifiseerde heining is verwoes, terwyl die watertenk en die boorgatpomp se drade gesmelt het.

Ashley Ness, senior inspekteur, sê hulle is dankbaar niemand het seergekry nie en slegs een perd, Wikkel, moes vir rookinaseming behandel word.

“Maar ons is bekommerd oor ons sekuriteit met die heining wat gebrand het. Hier was in die verlede al baie inbrake.”

Wikkel is die enigste perd wat vir rookinaseming tydens die brand behandel moes word. Foto: Gerda Bruinette

Dié perde versorgingseenheid het sedert hul ontstaan in 1991 al duisende perde (en donkies) gered, gesond gedokter en nuwe huise voor gekry.

Dis die rustigheid wat mens eerste opval. Oral staan perde in kampies en eet. Elke perd het ‘n storie, meestal hartseer stories van erge trauma en mishandeling.

Vir die meeste wag daar ‘n lang pad na herstel met die hoop van ‘n aanneemhuis. Ander is nie so gelukkig nie.

“Soms moet ons die uiters moeilike besluit neem wanneer daar nie hoop is vir ‘n besering om te herstel nie,” beduie Ashley en kyk anderpad. Dis nie iets waaraan enige een gewoond raak nie.

Hierdie is ‘n tydelike heenkome. Natuurlik is daar uitsonderings. Wikkel, wat toertjies kan doen wanneer hy so voel en dis nie vandag nie, is onder permanente pleegsorg by die eenheid.

In die kamp langsaan pronk die prins van die plaas. Jacob. Groot en sterk met blonde maanhare wat hy alla Faf de Klerk gereeld agtertoe skud. Hy is die amptelike gelukbringer en hy weet dit.

Die twee beste pêlle, Silwer en Stevie. Foto: Gerda Bruinette

Die twee hartediewe is Stevie en Silwer. Hulle speel heeldag en geniet ‘n luilekker lewe. Die twee donkies is beste pêlle met Stevie die ekstrovert en Silwer die introvert.

Albei is spekvet en gesond, maar beide het swaargekry voordat hul gered is. Stevie is onder meer so hard met ‘n knopkierie geslaan dat hy een oog verloor het en net gedeeltelik uit die ander kan sien.

In die hospitaal agter die kampe loer Thor oor die staldeur. Hy is gefrustreerd en wil ook in die modder gaan rol na die reën.

Hy is vir eers tot die stal beperk nadat hy ‘n ruk terug met brandwonde aan sy gesig en agterbene opgeneem is.

“Hy is saam met twee ander opgeneem na ‘n veldbrand in Secunda. Die wonde is al baie beter. Hy gaan okay wees,” verduidelik Ashley en Thor skud sy kop instemmend.

Die Highveld Horse Care Unit is afhanklik van donasies om onder meer veeartsrekeninge van by die R30 000 per maand te betaal.

Indien individue of besighede kan help met die installering van ‘n nuwe elektriese heining, boorgatpomp of geldelike donasies, kontak die eenheid by 082 921 1644.

Donasies kan in die volgende rekening betaal word. Rekeningnaam: Highveld Horse Care Unit. Rekeningnommer: 530 100 342 38. Bank: FNB.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button