Local newsNews

Aanbiddingsleier en raakvatter skielik oorlede

‘n Leier in die tiener en-aanbiddingsbediening by Duet-gemeente, Christiaan Labuschagne (39) is op Vrydagaand, 29 September, tydens ‘n interskole jeugkamp vir verskeie hoërskoolleerders, oorlede

‘n Leier in die tiener en-aanbiddingsbediening by Duet Gemeente, Christiaan Labuschagne (39) is op Vrydagaand, 29 September, tydens ‘n interskole jeugkamp vir verskeie hoërskoolleerders, oorlede.

Labuschagne het tydens ‘n aanbiddingsgeleentheid op Mooiplaas inmekaargesak, ongeveer 40km buite Potchefstroom in die rigting van Parys. Kardiopulmonêre resussitasie (KPR) is op hom toegepas. Nooddienste het onverpoos vir sy lewe geveg, maar hy is op pad hospitaal toe oorlede.

Labuschagne se liefde vir die Here kon gesien word in sy bereidwilligheid om ‘n verskil in mense te lewens te maak. Hy het saam met sy vrou, Marinda, tydens Covid-19 hul eie besigheid “Beacon of Hope” begin waar hul talle opknappingsprojekte aangepak het. Hy was juis ontsettend handig en was lief daarvoor om te kan skep.

Volgens ‘n nabye vriend van die gesin en gemeentelid, Madelein Stafford, het Christiaan sy roeping uitgeleef by die tienerbediening waar hy inspraak op mense se lewens gemaak het.

“Hy het ‘n vreeslike passie vir die Here, sowel as lofsang gehad en het by hoërskole bedien. Christiaan het ook ‘n baie gelykmatige temperament en oral waar hy gegaan het, het hy vreugde gebring. Baie keer sou hy net inloer of ‘n boodskap van bemoediging stuur,” noem Stafford.

Christiaan was ook lief vir Jesus en het sy passie vir aanbidding daagliks uitgeleef.
Labuschagne het in 2002 by Potchefstroom Gimnasium matrikuleer en het op Laerskool Mooirivier sy laerskooljare spandeer. Hy was ook vir 10 jaar ʼn onderwyser by Hoërskool Carletonville, voordat hy besluit het om saam met sy vrou, hul onderneming te begin.

Hierdie man ‘n betrokke pa van twee dogters, Caitlyn (9) en Leah (5).

Een van sy groot drome was om mense op te rig en hy wou graag ‘n oprigtingsentrum begin waar mense vaardighede geleer word sodat hulle ‘n bestaan kan maak.

“Hy was ‘n raakvatter. Enige iets wat hy aanpak met sy hande kon hy doen. Hy het homself toegespits op unieke meubelwerk. Om te skep was vir hom ‘n groot passie,” vertel Stafford verder.

Christiaan was baie lief vir sy twee dogters, Caitlyn en Leah.

Christiaan Labuschagne is op Vrydag, 29 September oorlede. Hy was ‘n gesinsman duisend. Hier is hy saam met sy vrou, Marinda en dogters, Caitlyn en Leah. Foto: Verskaf.
Labuschagne was vir ongeveer 14 jaar betrokke by Duet Gemeente. Sy lewensvieringsdiens vind op Vrydag, 6 Oktober om 10:00 vanuit Duet Gemeente plaas.

Vriende en familie is welkom om ‘n foto-herinnering van hom saam te bring.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button