News

Doodskruising eis skoolmeisie en vriend na kerkbyeenkoms

Die gesin wil graag met ooggetuies van die ongeluk kontak maak.

Die name van twee jong inwoners van Vanderbijlpark is Vrydagaand, 8 September, gevoeg by die lang lys slagoffers wat die afgelope 60 jaar hul lewens by die sogenaamde Kruising van die Dood verloor het.
Roné Groenewald (17) en haar 22-jarige vriend, wie se naasbestaandes versoek het dat hy nie in die berig geïdentifiseer word nie, was die aand van ‘n kerkbyeenkoms af op pad huis toe, toe hulle by die gevaarlike kruising tussen die R42 (Barragepad) en die R57 (Golden Highway) in ‘n botsing met ‘n ander voertuig betrokke was. Roné en haar vriend het op slag gesterf. Hul gesinne steier nog onder dié verskriklike verlies.

Wyle Roné Groenewald tydens haar kroning as Hoërskool Driehoek se Junior Mej. Fotogenies.
Volgens Roné se ma, mev. Ronel Groenewald, het Roné, haar vriend en haar jonger broer, Zaniël Groenewald (15), die Vrydagaand ‘n jeugbyeenkoms by Kompas Kerk in Ravelstraat bygewoon.
“Kort voordat hulle sou terugry het Zaniël my gebel en toestemming gevra om saam met ‘n ander vriend huis toe te ry. Ons het Roné en haar vriend omstreeks 21:00 terugverwag, min wetend dat hulle kort tevore in die ongeluk betrokke was. Toe my man, Willie, Roné se foon om 21:00 bel, het ‘n paramedikus geantwoord en gesê daar was ‘n ongeluk en dat ons na die toneel moes gaan,” sê ‘n gebroke Ronel. Hulle het die skoknuus oor die kinders se dood eers op die toneel gekry.

Roné was ‘n gewilde Graad 10-leerling van die Hoërskool Driehoek, waar sy verlede jaar die Junior Mej. Fotogenies-afdeling van die Mnr. en Mej. Driehoekwedstryd gewen en ‘n plek as finalis in die groot Mej. Skole-wedstryd losgeslaan het.
“Roné was altyd vriendelik en gelukkig. Sy was ‘n toegewyde kind van die Here wat baie van haar maats na die Hom toe gelei het,” sê Ronel. “Sy was ‘n bok vir sports… almal het altyd gelag in haar teenwoordigheid. Hoewel sy vir haar skool hokkie gespeel het, was dans en modelwerk haar grootste passies. Sy wou graag eendag ‘n aktrise word. Sy en haar vriend het mekaar nog net ‘n paar weke geken en nie vas uitgegaan nie, maar hulle was duidelik smoorverlief.”

Roné word buiten haar ouers en broer ook deur twee susters, Monique (19) en Zanél (15) oorleef. “Roné en Zanél was ‘besties’ en besonder na aan mekaar. Hulle het alles saam gedoen… saam gedans, ‘outfits’ gekies, saam gebad en mekaar se hare gedoen,” sê Ronel.
Roné se gedenkdiens het Donderdag, 14 September, by Kompas Kerk plaasgevind.
* Die Groenewald-gesin wil graag met ooggetuies van die ongeluk kontak maak. Motoriste wat dit gesien gebeur het, kan Ronel whatsapp by 078 504 9551.

Dalk is daar ook van ons inwoners wat toevallig ooggetuies was.

Lees die volledige berig met foto’s op die webwerf van die Herald se susterkoerant Vaalweekblad hier:

Doodskruising eis skoolmeisie en vriend na kerkbyeenkoms

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button