Local newsNews

Op 70 gelukkige huweliksjare

70 Jaar gelukkig getroud. Dit wil gedoen wees. Lees meer...

Oom Corrie Barnard (91) en tannie Annetjie (90) van Sasolburg het 7 Maart hul 70ste huweliksherdenking gevier.

Die egpaar is dit eens dat dit hul liefde is wat hul deur die sewe dekades saam gedra het.

Hulle het destyds ontmoet toe Annetjie in die poskantoor op Ottoshoop gewerk het.

Corrie het by Eskom aan die Oos-Rand gewerk, maar was deel van die span wat ‘n kraglyn in die Zeerust omgewing gaan aanlê het.

“Ek het elke dag gaan pos vra, al het ek geweet niemand sal vir my skryf nie. Ek wou haar net sien,” lag hy lekker.

Die egpaar het hul in 1954 in Sasolburg gevestig toe Corrie werk by die Sasol-groep gekry het.

Dis hier waar hul twee dogters Stienie en Martie gebore is en hier waar hul afgetree het.

Hulle woon nou al 26 jaar in hul huis in een van die dorp se aftreeoorde.

Die Barnards glo aan besig bly. Tot onlangs het hul nog gereeld die karavaan gehak om te gaan kamp.

Oom Corrie het destyds die Golden Oldie Woonwaklub in die Vaaldriehoek begin en was ook vir lank voorsitter.

Hul kampdae is dalk nou iets van die verlede, maar daar is nog nie sprake van stilsit nie.

As hul nie doenig is in die huis nie, word daar buite in die tuin gewerk of Rummikub gespeel. In die aande kyk hul sepies, veral Binnelanders en Suidooster is groot gunstelinge.

Oom Corrie geniet ook nog om sport te kyk en sê hy was nog al die jare ‘n WP-man.

Die Barnards is trots op hul kinders, vyf kleinkinders en sewe agterkleinkinders en geniet dit baie as almal kom kuier vir ‘n braai.

Oom Corrie en Tannie Annetjie is jonk van gees, en beide het ‘n skerp sin vir humor met vele lagplooitjies om die oë.

Hulle glo waar ‘n wil is, is ‘n weg en tannie Annetjie vat dit mooi saam met die woorde van die ou Halleluja-lied: “Tel jou seëninge, tel hul een vir een.”

Miskien is dit hul geheim, om dankbaar te wees vir elke dag saam en steeds die lewe te geniet met die persoon wat hul liefhet.

Op 70 gelukkige huweliksjare

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button