Local newsNews

Martie (74) is een van talle senior burgers wat in stilte ly

Baie Vaaldriehoekse bejaardes wat nie private mediese dienste kan bekostig nie, leef voortdurend in pyn. Dis 'n tragedie!

Om toegang tot gesondheidsorg te hê is ‘n basiese mensereg wat in Suid-Afrika se grondwet gewaarborg word. Ongelukkig weet almal dat die staat se mediese dienste heeltemal ontoereikend is en dat private mediese dienste onbekostigbaar vir middelklas- en minderbevoorregte mense is as jy nie ‘n goeie mediese fonds of hospitaalplan het nie.

Danksy sosialemedia-platforms soos Facebook, WhatsApp en insamelingsorganisasies soos Back-a-Buddy, word talle mense met dringende mediese behoeftes deesdae deur skarebefondsing gehelp. Maar hoe gemaak as jy ‘n bejaarde is wat nie toegang tot sosiale media het nie, of nie weet hoe en waar om hulp te vra nie?
In die Vaaldriehoek is daar waarskynlik honderde senior burgers van verskillende rasse wat in stilte ly. Een van hulle is mev. Martie Pretorius, ‘n 74-jarige weduwee wat haar man, Willie, sowat 18 maande gelede weens Covid verloor het.

Martie woon alleen in Mimi Fouriehof, Vereeniging, waar sy ondanks geweldige rugpyn probeer om na haarself om te sien.
X-strale het ‘n paar jaar gelede reeds getoon dat die kussinkies tussen haar rugwerwels gedisintegreer het en dat sy dringend ‘n operasie benodig, maar die waglyste is geweldig lank.
Haar enigste inkomste is haar Sassa-pensioen, en omdat sy nie ‘n mediese fonds kan bekostig nie, is sy ‘n staatspasiënt. Sy verduur intense pyn waarvoor sy pynpille by die Vereeniging-Kopanong hospitaal kry, maar dit is nie ‘n langtermyn-oplossing nie. Intussen loop sy met groot moeite met ‘n kierie, maar dit word by die dag moeiliker.

“Ons wil haar só graag help om ‘n operasie by ‘n hoëgehalte instansie te ondergaan sodat sy haar beweeglikheid kan terugkry en ‘n beter lewensgehalte kan hê,” sê haar bekommerde suster, mev. Baba Jansen.
* Enigiemand wat bereid is om ‘n bydrae te maak of voorstelle vir ‘n insamelingspoging het, kan mev. Jansen by 079 766 5436 kontak, of vir Martie by 071 446 0924.

Mev. Martie Pretorius en haar man, Willie, voor sy afsterwe aan Covid, sowat 18 maande gelede.

https://vaalweekblad.com/157402/martie-74-is-een-van-talle-senior-burgers-wat-in-stilte-ly/?fbclid=IwAR07uhhkMkZhjcb0zAxspOdfdPPTWWxcQplifGPi8HIPg1adyf2CHVFzJzI

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button