Local newsNews

Geweldadige stakings oor dienslewering wys op onbevoegdheid van munisipaliteit – VF Plus

"Ook kommerwekkend is die feit dat die owerhede skynbaar weens onder meer ʼn tekort aan hulpbronne, nie in staat was om die situasie in die kiem te smoor nie."

Die Vryheidsfront Plus in die J.B. Marks Munisipaliteit in die Potchefstroom-omgewing voer aan dat die afgelope betogings rondom dienslewering in Ikageng en Mohadin opnuut toon dat die ANC onbevoeg is om die leisels vas te hou.

Die VF Plus wys spesifiek na geweldadige betogings wat vanaf Woensdag, 22 Februarie op die N12-hoofweg en die dorpsgebied van Potchefstroom plaasgevind het.

Die sakekern is ook met groot trokke versper, motoriste is geïntimideer en klippe is na voertuie gegooi.

Die SAPD het ook intussen bevestig dat sewe verdagtes alreeds gearresteer is na die optogte en betogings wat verkeer op die N12 verskeie kere tot stillstand gebring het.

VF Plus-raadslid in die Nasionale Raad van Provinsies, Fanie du Toit, noem dat die stakings groot verkeersopeenhopings veroorsaak het sowel as inwoners getraumatiseer het.

“Die polisie het ondernemings op sosiale media-veiligheidsgroepe versoek om hul deure te sluit en hul werknemers toe te laat om veiligheid te bereik. Tog is die meeste werknemers aangewese op openbare vervoer wat ook tot stilstand gedwing is,” noem hy.

Taxi’s het ‘n gedeelte van die pad versper. Foto: Cornelia Hitge

Volgens hom is hierdie situasie onaanvaarbaar en ʼn skokkende aanklag teen die ANC-beheerde munisipaliteit.

“Die gebrek aan dienslewering en skynbaar onverskillige houding jeens die behoeftes van die inwoners, skep ʼn situasie waar geweld en ontwrigting aan die orde van die dag raak. Ook kommerwekkend is die feit dat die owerhede skynbaar weens onder meer ʼn tekort aan hulpbronne, nie in staat was om die situasie in die kiem te smoor nie,” meen Du Toit.

Die VF Plus stel ook dat die ANC-beheerde, JB Marks Munisipaliteit aanspreeklik gehou moet word vir sy gebrek aan dienslewering.

Die JB Marks Munisipaliteit het gister ‘n persverklaring uitgereik waar hulle noem dat watertekorte as gevolg van die fase ses beurtkrag en ‘n dieseltekort was. Daar word ook gepoog om wateraanlegte van beurtkrag vry te stel.

“’n Brief is weereens gestuur om Eskom te versoek vir vrystelling van die wateraanlegte sodat daar voortdurend tydens beurtkrag gepomp word. Die Munisipaliteit wag op goedkeuring van Eskom. Indien vrystelling verleen word sal watervlakke by die reservoirs beslis verbeter,” noem JB Marks woordvoerder, Jeanette Tshite.

Die Munisipaliteit werk ook saam met Eskom en ander belanghebbendes om vorendag te kom met ‘n toegewyde kragtoevoerlyn na die waterbehandelingsaanlegte en kritieke pompstasies.

“Dit sal die Munisipaliteit help om voortdurend water aan gemeenskappe te voorsien. Monsters is van watertenkwaens na die laboratoriums geneem om te toets of water geskik is vir openbare verbruik,” voer sy verder aan.

Tshite noem ook dat die leierskap van JB Marks om verskoning vra aan inwoners wat deur die waterkrisis affekteer word en dat die munisipaliteit voortdurend werk om water te voorsien.

Vandag (Vrydag, 24 Februarie) is die N12 oop, met owerhede wat die situasie monitor.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button