Local newsNews

Leeuwyfie ontsnap in Noordwes

Terwyl ’n groep motorfietsryers gereed maak om die naweek aan ’n massarit deel te neem om die aandag te vestig op die lot van wilde diere wat aangehou word, word daar nou gesoek na ‘n leeuwyfie wat ontsnap het.

Die voorval het glo Woensdag (23 Februarie 2023) op die Beesdam-pad tussen Stella en Tlagameng in Noordwes gebeur. Volgens die polisie het die leeuwyfie omstreeks 08:00 uit ’n houer ontsnap terwyl sy met ‘n Ford Ranger Bakkie vervoer is.

“Die eienaar het eers agtergekom dat die leeu ontsnap het toe hy by sy bestemming in Tlalameng aangekom het. Natuurbewaringsbeamptes en plaaslike  boere is tans op soek na die dier,” lui ‘n uittreksel uit die verklaring wat die polisie Donderdag uitgereik het.

Die polisie waarsku oor ‘n leeuwyfie wat in Noordwes ontsnap het.

Mense wat die dier sien of gesien het word versoek om Nanti Strydom by 082 563 7763 of Siyabonga Mseleku by 073 446 7452 of 081 336 6882, natuurbewaring of die naaste polisiestasie te skakel.

Intussen maak ‘n groep motorfietsryers gereed om op 26 Februarie vanaf die Blokhuis op die R59 tot by die Walkerville Landbou Skougrond deel te neem om bewustheid te skep rondom die lot van wilde diere in aanhouding.

Die plakkaat wat gebruik word om die massarit op 26 Februarie te bemark.

Dit volg na die ontsnapping van Sheba, ‘n tierwyfie wat in Januarie van ’n kleinhoewe in Walkerville ontsnap het, en ’n paar dae later deur haar eienaar van kant gemaak is nadat sy verskeie diere en ’n mens aangeval het.

 

Guy Mylchreest, stigter van die 45’s-motorfietsklub in Suid-Afrika en organiseerder van die massarit, sê die rit gaan oor geregtigheid vir Sheba die tier en baie ander tiere wat op ’n soortgelyke wyse aangehou word.

Daar is in Suid-Afrika tans geen wetgewing wat die aanhou van eksotiese diere soos dié verbied nie.

 

“Dit is geensins ‘n aanval op die eienaar van die tier of enige ander mense wat tiere wat aanhou nie. Ons voel net dat groot katte nie in aanhouding hoort nie. Hierdie diere is nie troeteldiere nie en hoort in reservate,” sê Mylchreest.

Guy Mylchreest (inlas) en die 45’s motorfietsklub beplan ‘n massarit vir Sheba die tier van Walkerville (hooffoto).

 

Volgens Mylchreest sal die rit ook gebruik word om fondse vir Four Paws, ’n dierewelsynsorganisasie, in te samel.

 

Volgens Mylchreest is die massarit nie net vir motorfietsryers nie. Hy sê motoriste en mense wat van ander vorme van vervoer gebruik wil maak is ook welkom om aan die massarit deel te neem.

 

Die massarit begin op Sondag 26 Februarie 2023 om 09:30 by die Engen Blockhouse-vulstasie op die R59-snelweg (suid) en deelnemers sal stiptelik om 10:30 in ’n konvooi vertrek na die Walkerville Landbou Skougronde, waar daar saam gekuier sal word.

 

By die skougronde sal daar musiek, vermaak en stalletjies wees.

 

Leeuwyfie ontsnap in Noordwes

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button