Local newsNews

Tannie Enna nog fiks en flink op 9

Op 95 is Tannie Enna nog op en wakker en altyd aan die gang. Lees meer.

Die Pioneer Huis in Vanderbijlpark se oudste inwoner, tannie Enna Engelbrecht, het 6 Desember haar 95ste verjaardag gevier.

Die ouma van vyf kleinkinders en nege agterkleinkinders pak nog elke dag die lewe met oorgawe aan. Sy het juis die nag voor haar verjaardag tot in die vroeë oggendure gewerk om al die eetgoed vir haar partytjie te maak.

Sonja van Rijn van die Pioneer Huis gee Tannie Enna ‘n drukkie op haar 95ste verjaardag. Foto: verskaf

“Ek dink ek het dit bietjie oordoen, sug sy. Volgende jaar moet almal maar ‘n bordjie eetgoed bring en dan kan ons saamkuier.”

Tannie Enna is in 1927 in die Willomore-distrik gebore. Sy was twee jaar oud toe die gesin na die destydse Transvaal verhuis het.

Haar pa was ‘n boer wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Haar ma was weer ‘n bobaasbakker en voorslag in die kombuis.

“Ek was maar in my 60’s toe my ouers, drie susters en twee broers oorlede is. Ek het gewonder hoekom het ek alleen agtergebly,” vertel sy.

Haar sterk geloof het haar toe gedra, soos wat dit vandag nog doen. “Ek weet Jesus het my nog hier nodig,” verduidelik sy.

Tannie Enna het steeds ‘n skerp sin vir humor, lag lekker en is nog selfversorgend. Sy politoer en vryf elke dag haar wooneenheid se vloere blink en loop gereeld self na die winkel om inkopies te doen.

Tannie Enna het self die eetgoed vir haar 95ste verjaardag voorberei. Foto: verskaf

“Ek moet nou met die loopraam met wieletjies loop, maar dis net omdat ek ‘n bloedklont in my hakskeen het. Ek wil nie met die ding loop nie,” beduie sy na waar haar loopraam staan.

Oumatjie, soos wat baie Pioneer Huis inwoners haar noem, moes nege jaar gelede haar Volksie verkoop wat sy vir 30 jaar gehad het.

“Op 86 het ek besef ek sal my ou Volksie moet verkoop, ek het te veel geskrik as die taxi’s skielik toeter gedruk het,” vertel sy met ‘n vonkel in haar blou oë.

Sy glo nie daaraan om ‘n dag nutteloos deur te bring nie en is dankbaar vir al die genade en seën wat sy elke dag ontvang. Sy ken haar Bybel en geniet dit om veral die Ou Testament te lees.

Dan is sy ook nog so ver moontlik betrokke by die kerk. As lidmaat van Dinamika Gemeente probeer sy om nie ‘n oggenddiens te mis nie en maak seker haar tiende word elke maand opsy gesit.

“Ek het vir 13 jaar kos gemaak vir die behoeftiges in ons gemeente,” vertel sy. Onlangs is daar by die kerk gevra vir onbederfbare kos vir die behoeftige gesinne.

Dit het tannie Enna dadelik laat dink, wat van die kinders? Nadat sy gehoor het dat daar ses kleingoed onder die gesinne is wat oor Kersfees kospakkies gaan kry, het sy spesiaal winkel toe geloop en lekkergoed, koekies en skyfies vir die kinders gaan koop.

“Dit maak my so hartseer om te dink daar is kinders wat nie eens brood het om te eet nie. Nou weet ek daar is darem ses wat iets lekkers gaan hê vir Kersfees.”

Haar eie lewe was nie altyd maklik nie. Haar man is oorlede nadat hy van sy fiets afgery is en sy moes hul twee dogters, Linda en Rina, alleen grootmaak. Dit het soms maar broekskeur gegaan, maar sy sê die Here het altyd voorsien.

Dit was ook ‘n geweldige skok toe haar dogter Rina oorlede is. Weer eens het haar geloof haar deurgedra. “Ek het geleer die Here maak nooit ‘n fout nie. ‘n Mens verstaan nie altyd nie, maar Hy weet die beste,” sê sy beslis.

Tannie Enna geniet haar onafhanklikheid. “Nou die dag sê my dogter ek moet na ‘n versorgingsoord gaan. Toe vra ek haar nou wie moet ek daar gaan versorg,?” lag sy weer lekker en haar blou oë blink ondeund.

“Ek weet wat ek kan doen en wat ek nie kan nie en die Here sal weet wanneer is dit tyd vir my om te trek. Op die oomblik bly ek nog baie lekker en kan goed na myself kyk. Ek is dankbaar vir die 95 jaar wat ek al hier is. Nou sien ek die 100-tal wink vir my,” glimlag sy.

Tannie Enna sien uit na die Kersete by die Pioneer Huis en sing vir my ‘Die vrede van Christus.’ ‘n Baie mooi lied, wat diep ontroer en die hoop uitdra wat hierdie besonderse vrou uitstraal.

Tannie Enna nog fiks en flink op 95!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button