EntertainmentNewsNews

Kate Rok vier debuut-album met nuwe enkelsnit en musiekvideo

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy ’n wiskundeonderwyser. Sy wil musiek maak wat 'n beter plek van Suid-Afrika sal maak

Aanhangers van Kate Rok, die donkerkop-ster van Clarens met haar kenmerkende Voortrekkerkappie, kan nie net uitsien na ’n nuwe enkelsnit en musiekvideo nie, maar ook na dié musikant se langverwagte debuut-album.

Kate se nuutste enkelsnit, REËNBOOGDANS, vier die diversiteit van ons reënboognasie. “Dit gaan oor genesing wat plaasvind wanneer ons kultuurgrense oorsteek en vier, vanuit ’n plek van liefde, die diverse kleure, geure, verlede en hede van ons reënboognasie. Om mekaar werklik te ken, moet ons alle tale en die simboliek daarvan verstaan. Om die verlede aan te spreek, moet ons na mekaar kyk deur ’n kulturele lens en op die manier waarop ons wil hê ander ons moet sien,” verduidelik sy.

Die liedjie, wat sy beskryf as “Teatrale Afrikana”, is ’n huldeblyk aan die Zoeloe-vrou wat haar help grootmaak het.  “Sarah was soos my tweede ma. Hierdie snit vier nie net haar liefde en toewyding aan ons gesin nie, maar ook die meer universele tema om jou eie huis en kinders op te gee ter wille van oorlewing en dan dieper waarde en betekenis daaraan te heg as om net ’n werk te hê. Sarah was ons vertroueling en haar kinders ons beste vriende. Sy het gedeel in ons geluk en hartseer, die goed en die sleg. Sy was altyd daar vir ons.”

REËNBOOGDANS is vir die sanger en liedjieskrywer baie spesiaal. “Dit vang my droom vir ons land vas, met ’n tikkie nostalgie daarby. My droom is dat ons sal leer om mekaar se taal te praat, want deur taal verstaan ons kultuur. Wanneer ons waarlik kultuur verstaan, is daar ’n dieper verbintenis as wat ons bloot sien en hoor. Dit bring ’n subjektiwiteit mee wat verandering vir die goeie, in ’n holistiese manier, teweeg kan bring.”

Net soos die enkelsnit, is die musiekvideo ook rou en emosioneel. Dit is in dokumentêre styl verfilm en wys Kate saam met Sarah se familie – haar man, kinders en kleinkinders – wat hulde bring aan haar by haar graf. Dit is by Sarah se huis, graf en kerk in Bakenpark, naby Bethlehem, verfilm.

“Deur middel van die video se rou visuele storievertelling, wil ek mense inspireer en aanmoedig om ander kulture beter te probeer verstaan. ’n Reënboog is mooi as gevolg van sy verkillende kleure – as al hierdie kleure saamsmelt, sal net ’n grys gemors oorbly. REËNBOOGDANS plaas klem op en vier diversiteit.”

Die video is deur verskillende mense, uit verskillende hoeke, verfilm met kameras en selfone en dit is deur Kate self geredigeer. “Ek wil vir opkomende kunstenaars wys dat dit moontlik is om dinge self te doen deur nuwe vaardighede aan te leer. Jy het nie ’n produksiespan nodig om suksesvol te wees nie. Gaan uit en skep – moenie dat enigiets jou stop nie.”

Kyk die video hier: https://youtu.be/Zka6PqIrLqg

Alhoewel REËNBOOGDANS diep en nostalgies is, is dit ook universeel. Dit is vervaardig deur Kate en Heinrich Pelser en volg in die voetspore van Wilgerlied en Maangenade, wat albei goed ontvang is. Dit is die sangeres se sewende enkelsnit en een van die liedjies op haar debuut-album wat pas bekendgestel is. VerKEN beloof om meer te lewer van die musiek waarvoor haar bewonderaars so lief is en is ’n unieke kombinasie van emosionele en betekenisvolle hartsmusiek.

Volgens Kate ondersoek die album Afrikaans en die Afrikaner-kultuur deur middel verskillende klanke, en help dit jou om te herontdek wat dit beteken om ’n Suid-Afrikaner te wees deur ’n unieke lens. Dit is ’n kombinasie van agtien jaar se liedjiesskryf en bestaan uit dertien snitte wat spesiale betekenis het vir die kunstenaar.

“VerKEN nooi luisteraars op ’n verkenningstog – om my klank, woorde, hart en siel beter te leer ken. Elke liedjie is ook ’n skatkis vol harmonie, simboliek, metafore en meer. Daar is baie vir die publiek om in te delf,” verduidelik Kate. Sy beklemtoon dat die titel ’n dubbele betekenis het. “Dit beteken ook ‘vir Ken’, ’n huldeblyk aan Ken Venter wat gehelp het om van my drome ’n realiteit te maak.”

Volgens Kate is elke liedjie op die album noukeurig uitgesoek om musiekliefhebbers aan te moedig om daarna te luister.  “Sit jou oorfone op. Lees die lirieke. Luister herhaaldelik na die liedjies. Daar is so baie om te ontdek op hierdie album,” sê sy.

Kate, met haar sterk en onafhanklike persoonlikheid, sing al vandat sy drie jaar oud is en skryf al haar eie liedjies sedert sy op skool was.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy ’n wiskundeonderwyser. Sy het ook onlangs haar eie besigheid begin, wat haar passie vir konseptuele ontwerp, opvoedkundige ontwikkeling en holistiese reis-ervaringe kombineer. Dis vir haar lekker om in haar vrye tyd kreatief te wees met grimering, fotografie en avontuur – in die lewe en musiek.

Sy het opwindende planne vir die toekoms en wil musiek maak wat ’n blywende impak het op die samelewing en van Suid-Afrika ’n beter plek sal maak.

VerKEN is nou beskikbaar op alle digitale platforms, kry dit hier:

https://deezer.page.link/jCP3keCiiA71Ymjf8

 

LYS VAN SNITTE:

Reënboogdans, Pronk, ’n Ode, ’n Vry Staat, Sluise, Maangenade, Afrika Reën, Verlate, Wilgerlied, Staat, Tequila Karoo, Welgedacht, Gebed vir Suid-Afrika.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/KateRokRSA/

Instagram: @katerok.rsa

Webblad: www.katerok.co.za

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCJXL8pd-_6VZPAetyLlxWzw

 

************************************************************************************************

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button