NewsNews

‘n Huis uit die Here se hand

“As mense sê hulle glo nie in wonderwerke nie, stuur hulle na my toe,” - Gretha le Roux (80) stigter van Huis Hebron.

‘n Stap van geloof in gehoorsaamheid aan die Here was die beginpunt van die genadeverhaal van Huis Hebron (Potchefstroom Opheffingsprojek).

Die stigter van Huis Hebron, Gretha le Roux (80), is ‘n lewende voorbeeld van die Here se genade in haar en almal betrokke by Huis Hebron.

Met net ‘n stuk oop grond voor haar, het sy sowat 20 jaar gelede die besluit geneem om Huis Hebron, sowat 15km buite Potchefstroom op die R54, vir haweloses te stig. Danksy die Here se leiding en Hebron se daaglikse fokus om hulle skepper, Jesus Christus, die nommer een prioriteit te maak, is daar elke dag ongekende wonderwerke wat hier gebeur.

“As mense sê hulle glo nie in wonderwerke nie, stuur hulle na my toe,” noem Gretha met ‘n glimlag.
Gretha vertel dat sy destyds Hebron begin het toe die Here dit op haar hart gedruk het om haar eie plaas vir haweloses in te rig.

Foto’s: Wouter Pienaar

“Ek was by Lochvaal by ‘n hawelose plek betrokke en het dit baie geniet. Die Here het my toe gevra of ek nie ‘n plek vir haweloses op my plaas wil inrig nie. Dit was ‘n vreemde gedagte aangesien ek altyd gedink het dat ‘n plek vir haweloses in ‘n dorp moet wees.

“Ek het elke dag die skrif gekry dat ek ‘n plek vir armes moet inrig. Na ‘n maand het ek vir die Here geluister en besluit om Hebron te begin. Ek het so begin leer om die Here te vertrou. Daar was nie een dag wat ek weens die finansies aan die bouwerk vir Huis Hebron moes stop nie. Al het ek nie baie geld gehad nie, het die Here beskik dat Hebron opgerig word,” vertel Gretha.

Die hart van Hebron is om ‘n Christelike ondersteuningstruktuur te bied waar elkeen van die 110 inwoners kan staatmaak om nie op enige vlak honger te gaan slaap nie. Op geestelike vlak is daar berading gebaseer op Bybelse beginsels. Daar is ook verpligte oordenkings, Bybelstudie, sowel as Sondagoggend en aanddienste.
Huis Hebron bied op fisiese vlak slaapkwartiere, ‘n huislike omgewing, gebalanseerde dieet, sowel as toegang tot ‘n gimnasium en biblioteek.

“Daar was nog nie een dag wat ons honger gaan slaap het, of dat daar nie water is nie. Alles is genade uit Sy hand uit. Al die projekte wat ons aanpak is ‘n sukses. Ek was self op die straat en weet uit watter omstandighede die inwoners kom,” noem die huisvader en terreinbestuurder, Gerhard Rivers.

Huis Hebron se span bestaan uit Gretha le Roux (stigter en bestuur), Elma le Roux (bestuur), Marius le Roux (bestuur), Gerhard Rivers (huisvader en terreinleier), Pierre van den Berg (pastoor), Carin Engelbrecht (projekleier) en Dries Engelbrecht (projekleier).

Die stigter van Huis Hebron, Gretha le Roux, saam met ds. Pierre van den Berg, voltydse pastoor by Huis Hebron.

“Godsdiens by Huis Hebron is verpligtend en nie opsioneel nie. Ons is baie geseënd en gelukkig. Ons het ‘n pragtige kerk, eetsaal en slaapkwartiere. Ons glo die inwoners moet iets hier doen, aangesien dit terapeuties is en ‘n doel gee. Ons sien baie dat verslaafdes wat hier opdaag onttrekkingsimptome kry, en dan loop hulle weer. Ons verkies om mense in te neem wat nie verslaaf is nie,” voeg Gretha by.

Hebron, wat uit ongeveer 13 hektaar grond bestaan, word as ‘n werkende plaas bestuur waar inwoners vir vyf dae per week en drie ure op ‘n Saterdag werk. Hulle verrig verskeie daaglikse take en is aktief betrokke by die kweek en produksie van plaasprodukte en ook die omsien van lewende hawe.

Volgens Rivers is daar ‘n kloksisteem in plek en alles word volgens strukture gehardloop om orde te handhaaf.
Die omgewing en werk verskaf oefening, vars lug, geleenthede vir probleemoplossing, waardering vir grond en diere sowel as bevrediging in ‘n mens se werk en die vermindering van stres.

“Hebron behoort aan die Here en Hy sorg vir ons. Dit is hoekom ons so uiters vooruitstrewend is. Toe ek hier begin het, was daar niks. Daar was nie eers een boom of gebou nie. Mense het my nie altyd geglo dat ‘n vrou sonder geld dit sou kon doen nie. Die Here vra vir jou gehoorsaamheid, gewilligheid en bekwaamheid. As jy dit gee dan is enige iets vir Hom moontlik,” noem Gretha.

Volgens Gretha word die nood daagliks al hoe groter met mense wat by Huis Hebron aanklop, maar omdat daar te min plek is word baie mense weggewys.

“Dit is hartseer, so partykeer druk ons maar mense in. Ons doen wat ons kan en die res laat ons aan die Here oor. Met die groentes wat ons self groei, kry die inwoners baie goeie kos. Ons kon van ons oorskiet groente, meel en rys na ander hawelose plekke saai om terug te gee. Dit is die heel lekkerste vir my om ander mense ook te kan help.”

“Ons is baie afhanklik van die publiek wat baie vir ons doen en beteken. Ons is baie lief vir die mense wat ons kom besoek.”

Vir meer inligting kan Huis Hebron by hebronpotch@gmail.com per e-pos gekontak word.

Related Articles

Back to top button