NewsNews

Groot skade naby Parys se bekende hangbrug

Hier is groot skade

Die hangbrug oor die Vaalrivier in Parys is seker een van dié dorp se bekendste toerisme bakens, maar hier net so regs van die brug is nou groot skade waar die water die grond onder die pad uitgekalwe  en laat inval het.

Die skade is net regs van Parys se bekende hangbrug teen die rivieroewer waar die water die grond onder die pad uitgekalwe het. Foto: Selma Kok

Die skade is reg by die inligtingsbord wat in 2013 hier opgerig is met ‘n gemeenskapsprojek waar ‘n handjievol vrywilligers toe begin het om die brug te verf en die draadwerk te herstel om die brug wat in 1919 gebou is, weer in ere te herstel. Daarna is oor die jare baie moeite gedoen om die oewer hier by die hangbrug skoon en netjies te hou vir besoekers, en gereeld graffiti teen die brug toe te verf.

Die projek om die hangbrug netjies te maak,  is destyds gebore uit die inisiatief van ‘n groepie vroue onder leiding van Elize Bosman en Tanja Holtzhausen, wat die bal aan die rol gesit het, en het hulp toe spontaan uit alle oorde gekom sodat selfs  betonbankies en die inligtingsbord met die geskiedenis van die brug wat bekend is, en inligting oor voëllewe hier opgerig kon word.

In 2020 is ‘n soortgelyke gemeenskapsprojek weer geloods om die brug te verf.

Ongelukkig is daar vandag min bekend oor die kontrakteur en die geskiedenis van hoe die brug gebou is, maar een ding is seker, oor jare het Parys se hangbrug nog nie sy bekoring vir Parysenaars of besoekers aan die dorp verloor nie, en is dit steeds een van die mees gefotografeerde toeriste-aantreklikhede vir die dorp. Of dit op brosjures, in tydskrif-aftikels of TV-programme oor Parys is – jy kan seker wees die hangbrug sal daar wees. Voeg dan daarby die hordes slotte wat mense al hier aan die hangbrug kom hang het wat op sigself iets is om te sien.

Die slotte aan die hangbrug oor die Vaalrivier in Parys is op sigself ‘n toerisme aantreklikheid die afgelope jare. Foto: Liezl Scheepers

Lees die volledige berig op die webwerf van die Herald se susterskoerant Parys Gazette hier:

Groot skade naby dorp se bekende hangbrug | Parys Gazette

Related Articles

Back to top button