Vyf mense is oorlede en agt beseer na drie voertuie in ‘n ernstige botsing op die N12 gistermiddag (Dinsdag, 19 April) betrokke was. Die ongeluk het ongeveer 20 kilometer buite Potchefstroom in die rigting van Fochville plaasgevind. Volgens ER24 woordvoerder, Russel Meiring, het paramedici drie ligte voertuie op die toneel oorkant die pad opgemerk. Verskeie pasiënte het ook op die toneel buite hulle motors gelê. Vier mans is op die toneel dood verklaar, terwyl ‘n ander insittende aan beserings later in die hospital beswyk het.
Sewe ander insittendes in die ongeluk het ligte tot matige beserings opgedoen en is daarvoor behandel. “Die kritiek beseerde pasiënt is van gevorderde lewensondersteuning voorsien. Nadat hulle behandel is, is die pasiënte na hospitale in Potchefstroom vervoer vir verdere sorg. Ongelukkig het die kritiek beseerde pasiënt na ‘n geruime tyd aan beserings in die hospitaal beswyk,” vertel Meiring.