NewsNews

Pa van vier sterf in botsing naby ‘doodskruising’

Mev. Alta du Plooy het namens AfriForum se plaaslike bestuur, meegevoel aan die Swanepoel-familie oorgedra en dit betreur dat die gesin ses ure in die koue op die toneel moes wag dat hul geliefde se liggaam verwyder word.

Vier kinders moet die toekoms sonder hul geliefde pa ingaan nadat hy op 6 April in ‘n motorfietsongeluk op die Barragepad naby die “Kruising van die dood” gesterf het.

 

Mnr. Willem Swanepoel (42), ‘n sakeman van die Vaaldriehoek, was die Woensdagmiddag omstreeks 17:00 met sy motorfiets op pad na ‘n afspraak toe hy oorkant Alex Roadhouse vir ‘n stilstaande bakkie wat gewag het om te draai, uitgeswaai het. Willem se motorfiets het gegly en hy het in die pad geval, sekondes voordat ‘n aankomende bakkie oor hom gery het. Hy het 20 minute later op die toneel gesterf. Vir sy eksvrou Elzett, met wie hy nog ‘n goeie vriendskap gehad het, en die vier kinders was dit verpletterende nuus. “Hy was altyd daar vir die kinders en vir almal wat hom nodig gehad het,” sê Elzett.

 

Willem is op 29 Maart 1980 in Welkom gebore en het in Kroonstad grootgeword voordat hy 29 jaar gelede saam met sy gesin na Vanderbijlpark verhuis het.

“Hy was ‘n liefdevolle mens en ‘n regte grapgat. Almal het hom so liefgehad. Ons sal hom altyd onthou vir sy goeie hart,” sê Elzett.

“Hy was ‘n ware gesinsman en het dit geniet om te hengel, jag en snoeker te speel.” Hy word oorleef deur sy kinders, Anuschka (18), Mikayla (13), Claudett (9) en Eduan (8), sy pa, mnr. André Kleyn, en broers Pieter en Joseph Swanepoel. Die troosdiens is Woensdag, 13 April by Kompas Gemeente in Vanderbijlpark gehou. Elzett bedank almal wat hul gesin op die toneel ondersteun het, sowel as almal wat hulle deur dié moeilike tyd bystaan. * Mev. Alta du Plooy het namens AfriForum se plaaslike bestuur, meegevoel aan die Swanepoel-familie oorgedra en dit betreur dat die gesin ses ure in die koue op die toneel moes wag dat hul geliefde se liggaam verwyder word. Lees die volledige berig op die webtuiste van die Herald se susterskoerant Vaalweekblad hier: Pa van 4 sterf in botsing naby ‘doodskruising’ | Vaalweekblad

Related Articles

Back to top button