NewsNews

Prof. Pieter Kruger wen SA baanfietsrytitel

Die Direkteur van die NWU Centre for Health and Human Performance (CHHP), prof. Pieter Kruger, se kundigheid oor sportwetenskap en sielkunde het hom goed te pas gekom tydens die Suid-Afrikaanse Baanfietsrykampioenskappe vanaf 28-31 Maart by die Bellville Velodrome. Hy het by hierdie kampioenskappe die goue medalje ingepalm tydens die 20km Puntewedren. Kruger het ‘n uitstekende …

Die Direkteur van die NWU Centre for Health and Human Performance (CHHP), prof. Pieter Kruger, se kundigheid oor sportwetenskap en sielkunde het hom goed te pas gekom tydens die Suid-Afrikaanse Baanfietsrykampioenskappe vanaf 28-31 Maart by die Bellville Velodrome.

Hy het by hierdie kampioenskappe die goue medalje ingepalm tydens die 20km Puntewedren. Kruger het ‘n uitstekende taktiese wedren gery tydens hierdie strawwe wedren oor 80 rondtes by die Bellville Velodrome. Daarmee het hy ‘n baie suksesvolle week afgesluit nadat hy ook silwer medaljes in die individuele agtervolgwedren (individual pursuit), die span naelwedren en die span agtervolgwedren, asook ‘n bronsmedalje in 10km “scratch race” verower het.

Prof. Kruger het gedurende sy hoërskoolloopbaan in die 1990’s nasionale junior kleure in baanfietrsry verdien, maar eers die afgelope ses maande weer op ‘n baanfiets geklim.

Hy en sy spanmaats het aan die Gauteng Summer League en provinsiale kampioenskappe deelgeneem ter voorbereiding van die SA Baanfietsrykampioenskappe. Baanfietse verskil beduidend van pad- en bergfietse, aangesien dit slegs ’n enkele ratverhouding het, ‘n vaste aandryfmeganisme, geen remme en baie nou bande met ‘n baie hoë banddruk.

Dis ook baie senutergend en potensieel gevaarlik weens die nabye afstand tussen die ryers en gradiënt van die baan. Die 20km Puntewedren is ‘n baie uitdagende en gevaarlike item en die voorste vyf ryers verdien elke tien rondtes punte, wat beteken dat daar gereelde wegbreke en naelritte voorkom.

Hierdie risiko het ‘n realiteit vir Pieter geword toe hy gedurende die vooraf-opstelrondte kontak met ‘n ryer voor hom gemaak het en sy fiets onder hom uitgegly het. In die proses het sy agterwiel se buiteband afgekom en is sy fietsrypak ook beskadig. Gelukkig was sy spanmaat, Dana Schutte van CycloDNA byderhand om blitsig die wiel te ruil voor die afsitterspistool. Pieter het na die tyd gesê dat die “adrenalien-inspuiting” eintlik goed was, want hy was meer gefokus en gemotiveerd gedurende die wedren.

Hy kon na ongeveer 30 rondtes saam met twee ander ryers wegbreek en die bondel van agter inhaal. 18 rondtes later het hy weer so gemaak en vir ‘n tweede keer die bondel inry en verbysteek, wat hom in staat gestel het om genoeg punte in te samel om die goue medalje te verwerf.

Die NWU CHHP-geborgde span, wat bestaan uit Pieter Kruger, Dana Schutte, Ruan Smit, Gerrit Janse van Rensburg en Ryno Schutte, het ‘n baie suksesvolle SA kampioenskap gehad en in totaal drie goue, vyf silwer en twee bronsmedaljes ingepalm.

Prof. Kruger het gesê dat ‘n gesonde fietsrykultuur, die uniekheid van die Potchefstroomse gemeenskap, en die spesialis- ondersteuning van die CHHP die span in staat gestel het om optimaal te presteer. Hy sê dat die CHHP dieselfde beginsels en raad met hulle ander kliënte toepas en sodoende die teorie en praktyk deurlopend bymekaar bring. Alhoewel dit ‘n baie strawwe kompetisie was, is hulle span baie tevrede met hulle uitslae.

 

Related Articles

Back to top button