Die uitvoere van landbouprodukte soos wyn, mielies en sitrus is een van die weinige middele wat nog positief bydra tot groei in die Suid-Afrikaanse ekonomie – en die graanwaardeketting speel ‘n integrale rol hierin.
Volgens Rehr het GOSA se lede iewers ‘n aandeel in die uitvoere gehad hetsy in die gradering van mielies, die opberging, verhandeling, finansiering of vervoer daarvan. Die geskatte huidige mielieoes van 14,6 miljoen ton – en die jaarlikse verbruik van 11,8 miljoen ton – dui daarop dat uitvoere weer gaan plaasvind vanjaar. Gegewe die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne sal Suid-Afrika dalk nie op die kort termyn enige tekorte ervaar nie, maar die krisis gaan verseker ‘n invloed hê op voedselprysinflasie omdat pryse wêreldwyd reeds styg.
“Landbou hou nog Suid-Afrika se deure oop. Met sowat 30 miljoen mense wat hul inkomste van die staat ontvang, voed 36 000 boere en werkers elke dag Suid-Afrika se 58 miljoen inwoners. Die regering van die dag behoort voedselsekerheid – net soos Eskom – as ‘n nasionale bate te klassifiseer,” het Rehr bygevoeg.
37ste simposium
GOSA se 37ste simposium is op 17 en 18 Maart by Diaz Strand Hotel in Mosselbaai aangebied. Die sprekers tydens die simposium was dr Roelof Botha (ekonoom), mnr Theo Venter (onafhanklike politieke en beleidspesialis), mnr Wessel Lemmer (AGBIZ Grain) en mnr Benoit Le Roy (SA Waterkamer). Graanspesifieke wegbreeksessies is gefasiliteer deur mnre Pieter Fourie (Eko Design), Japie Snyman (Olam SA), Wayne Rosewall (Premier Milling) en Me Alta Swanepoel (Alta Swanepoel en Assosiate). ‘n GOSA sake-ontbyt is deur prof Jannie Rossouw (Wits Sakeskool) toegespreek.