NewsNews

Oud-Gimmie met ‘n goue hart sterf in fratsongeluk

"Sy het haar lewe geëindig soos sy dit geleef het – om te kyk of die ander okay is."

‘n Tragiese ongeluk op Sondag, 27 Februarie het die lewe van ‘n voormalige Potchefstroom Gimnasium leerder, Annien Müller (22), geneem.
Annien sal onthou word vir haar vriendelike persoonlikheid wat almal se lewens opgehelder het.

Annien, wat by die Universiteit van Pretoria (Tukkies) medies studeer het, het die afgelope Saterdag (26 Februarie) haar tweeling-sussie, Carolien, se troue in Potchefstroom bygewoon.

 

Annien en haar kêrel, Reino von Wielligh (29), het in aparte voertuie terug na Pretoria die volgende dag saam hul hond, Xara, gery. Reino het beheer van sy voertuig net verby Diepsloot op die N14 verloor. Dit nadat daar alreeds ‘n ander voertuig ook op dieselfde plek in ‘n ongeluk betrokke was.

 
 

Annien het inderhaas stilgehou om vir Reino te help, maar is toe deur ‘n derde voertuig, wat ook beheer op die pad verloor het, op die gras tussen die twee teerpaaie getref. Dit het omstreeks 16:45 gebeur. Sy is gestabiliseer op die toneel en per helikopter na die Sunningdale Hospitaal in Klerksdorp vervoer. Haar ma, Rina, vertel hoe sy en haar gesin inderhaas na die hospitaal is toe hulle die nuus van die fratsongeluk ontvang. “Ons kon nog die laaste ruk saam met Annien by die hospitaal spandeer. Die dokters het probeer om haar weer te stabiliseer, maar sy het twee hartaanvalle gekry weens die impak van die beserings. Haar nek en ruggraat het baie seergekry. Ek het vir Carolientjie (tweelingsussie) gebel wat toe al op haar wittebrood was, om vir Annien totsiens te sê,” vertel Rina, emosioneel. Haar ma noem dat Annien altyd baie aangepak het en nogtans presteer het. “Ek het gister ‘n e-pos ontvang dat sy vir drie jaar onderskeidings op universiteit behaal het. Sy het ook ‘n beurs gekry. Sy het ook altyd ekstra moeite gedoen met kaartjies en briefies wat sy geskryf het. Sy het haar eie juwele en oorbelle ook gemaak en het daarvan gehou om die ekstra myl te gaan,” vertel haar ma.

Annien en haar kerel van die afgelope 6 jaar, Reino von Wielligh. 

Daar was groot skok en hartseer met die nuus van haar afsterwe met familie, talle vriende, oud-skoolmaats en kennisse wat hulle medelye op sosiale media gedeel het.

 
Annien Müller (22) is Sondagaand in ‘n ongeluk oorlede. Foto: Facebook

Annien was een van Gimmies se top leerders wat in akademie en op sportgebied veral in swem en lewensredding uitgeblink het.

Annien en haar tweelingsussie, Carolien. Annien het die dag voor die ongeluk haar sussie se troue bygewoon. Foto: Facebook

Sy het Akademiese erekleure verwerf en was een van die ondervoorsitters van die Gimmieraad (2016-2017) Sy het ook Noordwes-kleure vir lewensredding en SA in die sport verteenwoodig. Sy was die senior dogterswemmer van die jaar en Gimmies se senior sportdogter van 2017. Annien het 12 jaar volle skoolbesoek afgelê. Haar voormalige hokkie-afrigter by Gimmies, Susan van Staden, vertel dat Annien ‘n goue hart gehad het en altyd bereid was om te help. “My onder 14 span het aan die Noordvaal-toernooi deelgeneem en ek het net 11 spelers gehad. Een van my spelers kry toe seer en Annien was daar op daardie dag om haar tweelingsus te ondersteun. Ek sê toe:  “Annien het jy al gespeel?” Annien sê toe “nee juffrou.” Ek noem toe vir Annien dat sy vandag gaan speel. Ons trek vir haar die beseerde se klere aan en daar wen ons want Annien het presies gedoen wat ek skree. Dit was Annien. Altyd gehelp en altyd vir sus Carolien opgepas en gekyk of sy okay is. Sy het die ekstra myl gestap vir enige iemand, ongeag wie dit is. Sy het haar lewe geëindig soos sy dit geleef het – om te kyk of die ander okay is. “Ek betreur ‘n pragtige mens se lewe wat ook diep spore in my as volwasse se lewe gelaat het,” noem Van Staden.

Annien was ‘n kranige swemmer en lewensredder. Hier is sy saam met Rudy van Graan in hulle Protea-kleure. Foto: Wouter Pienaar.

“Ons dink in ons gebede aan haar gesin en familie. Mag ons Hemelse Vader vertroosting, krag en wysheid gee in hierdie moeilike tyd,” het Potchefstroom Gimnasium in ‘n skrywe op Facebook genoem.

 

Related Articles

Back to top button