NewsNews

Gewapende rowers oorval inwoner (75) en sy huishulp in kompleks

“Ek glo ek het so paar houe ingekry en ek dink nie hulle het dit verwag nie. Ek onthou wel dat ek baie hard teen die neus geslaan is en gedink het dat my bril sou breek."

Vyf gewapende rowers het die 75-jarige Nankie de Wit en sy huishulp Anna, die afgelope Dinsdagmiddag, 22 Februarie omstreeks 12:25 onkant betrap in Pezcodstraat in Potchefstroom.

Die rowers het blitsvinnig vir Anna na die kombuis gedwing en daar geslaan. Hulle het Nankie met ‘n rewolwer teen die kop geslaan, na die kamer geforseer en sy voete met een van sy eie belde vasgebind.

Hy het met alles in hom terugbaklei maar in ‘n 5 teen 1 situasie moes hy toekyk hoe die rowers met sy rewolwer, twee skootrekenaars, ‘n televisie, juweliersware en sy selfoon wegstap.

Nankie de Wit (75) is in sy huis aangeval die afgelope Dinsdagmiddag. Hy is teen sy neus en met ‘n rewolwer teen die kop geslaan. Die rowers het met talle items uit sy huis gevlug. Foto: Wouter Pienaar.

“Ek glo ek het so paar houe ingekry en ek dink nie hulle het dit verwag nie. Ek onthou wel dat ek baie hard teen die neus geslaan is en gedink het dat my bril sou breek. Daar was bloed, maar geen bloukolle na die tyd nie,” vertel Nankie wat ook ‘n steek op sy kop het na die hou met die rewolwer.

Nankie vertel dat alles baie vinnig gebeur het. Hy het die oggend winkels toe gegaan om kruideniers te koop. Terwyl hy sy kruideniers by die huis afgelaai het, het die gewapende mans met balakavas hom oorval.

“Ek wou nog my skootrekenaar uit die kar haal toe is hulle op my. Hulle moes op ‘n manier toegang verkry het, want die hek gaan dadelik toe sodra ‘n mens inry. Ek het ook nie gesien dat iemand my agtervolg het nie. Ek onthou dat hulle op my geskree het en gevra het waar die geld was. Hulle was definitief gesout en ek kon agterkom hulle het presies geweet wat hulle doen,” noem Nankie, wat die eienaar van ‘n besigheidskonsultasie-maatskappy is.

Nankie de Wit wys waar die rowers hom teen die neus en gesig geslaan het. Foto: Wouter Pienaar

Voordat hulle Nankie se huis verlaat het, het hulle eers ‘n skuifhek in die gang gesluit. Hulle het ook ‘n sak rys op die vloer gegooi om die vloer glad te maak, om te verhoed dat hul agtervolg word.

Nankie moes sy huishulp roep om ‘n spaarsleutel vir die hek te kry sodat hy Mooirivier Beskerming en die Polisie kon skakel.

Nankie se vrou, Elsa, was tydens die voorval by die kleuterskool waar sy klasgee.

“Ek is dankbaar dat dinge nie erger uitgedraai het nie. Hulle kon my net sowel geskiet het. Dit is genade. Ek is darem aktief en nog sterk vir my ouderdom. Ek het lank gestoei en was nogal hardegat. Ek dink hulle het dalk my grys hare gesien en my onderskat. Anna is wel nog baie geskok na die voorval,” sê Nankie.

Die polisie het ‘n soortegelyke voorval in Bremnerstraat bevestig wat op dieselfe dag plaasgevind het.

NW polisiewoordvoerder, Amogelang Malwetse, het genoem dat die verdagtes nog op soek is.

Related Articles

Back to top button