NewsNews

Raadslid sterf, gesin beseer toe trok vir slaggat uitswaai

"Die amptenaar wat verantwoordelik is vir die instandhouding van die pad waar Oost gesterf het, behoort van strafbare manslag aangekla te word" - Bertus vd Westhuizen, TLU, Vrystaat.

Die gehawende pad tussen Villiers en Vereeniging het op Maandag, 31 Januarie, ‘n lewe geëis toe ‘n trokbestuurder wat glo vir ‘n slaggat uitgeswaai het, die voertuig van mnr. Jan Oost van Frankfort tromp-op getref het.
Mnr. Oost (46), ‘n bekende Vryheidsfront-raadslid van Frankfort, was die middag saam met sy gesin op pad na Vereeniging waar sy kinders aan ‘n sportbyeenkoms sou deelneem.

Wyle mnr. Jan Oost

Mnr. Oost het op slag gesterf. Sy vrou Sandra en seuns, Jan jr. (11) en Eben (7), is ook in die ongeluk beseer. Dit het nooddienswerkers etlike ure geneem om die gesin se Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie waarin mnr. Oost se liggaam vasgeklem was, oop te buig. Sandra het dwarsdeur die reddingspoging in erge pyn langs haar man vasgesit, wetende dat hy reeds gesterf het. Albei Sandra se arms, ‘n nekwerwel en van haar ribbes is gebreek. Haar pols en heup is ook ontwrig. Sy is na ‘n hospitaal in Frankfort vervoer en later na die Unie-hospitaal se trauma-afdeling in Alberton oorgeplaas.
Jan jr. is in ‘n kritieke toestand per ambulans na MediClinic Vereeniging gehaas en later die dag na die Unie-hospitaal in Alberton gevlieg. Hy het kopbeserings opgedoen en albei sy bene en ‘n arm is gebreek. Sy toestand was teen Vaalweekblad se saktyd nog kritiek. Die egpaar se jongste seun, Eben, is met stamp- en kneuswonde in die Netcare Clinton-hospitaal, ook in Alberton, opgeneem.
Mnr. Jan van Niekerk, die VF Plus se provinsiale leier in die Vrystaat, sê mnr. Oost was vir 11 jaar betrokke by die party en het sedert 2016 as ʼn raadslid in die Mafube-plaaslike munisipale raad gedien. Hy was ook lid van die VF Plus se Vrystaatse dagbestuur.
“Jan Oost was ʼn omgee-mens en altyd gereed om mense by te staan. Probleme met munisipale dienslewering was vir hom ‘n prioriteit. Hy was ʼn vriend, ‘n uitstekende raadslid en ‘n pa wat alles vir sy vrou en kinders sou opoffer. Hy het voluit geleef, die lewe geniet en elke oomblik benut om mense te laat lag,” sê Van Niekerk.

Lees die berig hier verder op die webwerf van die Herald se susterskoerant Vaalweekblad:

Raadslid sterf, gesin beseer toe trok vir slaggat uitswaai | Vaalweekblad

 

Related Articles

Back to top button