NewsNews

Liefdevolle perde wat stukkende mense heel maak

Daar is iets in ‘n perd se oë wat ‘n diepe vertroosting vir ‘n mens se siel gee. Met een kyk en speelse grinnik is dit omtrent of die perd jou innooi en gaan vertel dat alles oukei gaan wees. By Adéle Löhmann se Serenity Equestrian Centre, ‘n nie-winsgewende perdryskool en terapiesentrum wat minderbevoorregte en …

Daar is iets in ‘n perd se oë wat ‘n diepe vertroosting vir ‘n mens se siel gee. Met een kyk en speelse grinnik is dit omtrent of die perd jou innooi en gaan vertel dat alles oukei gaan wees. By Adéle Löhmann se Serenity Equestrian Centre, ‘n nie-winsgewende perdryskool en terapiesentrum wat minderbevoorregte en gebroke kinders hoop gee, is daar beslis iets spesiaal aan dié perde.

 
Hannah Löhmann, Adéle Löhmann, Meyer Olivier en Stephano Jipi saam met Olofberg, een van die perde by Serenity Equestrian Centre. Foto: Wouter Pienaar

Hierdie perde was op ‘n tyd gesogte volbloedperde, maar weens ouderdom of siekte was daar agteruitgang. Kortom het hierdie gebroke perde nou ‘n tweede kans om vir kinders hoop te bring. Dit is nie net die perde wat al deur rowwe waters is nie, maar Adéle vertel dat sy ook self van die donkerste tye moontlik beleef het.

 
 

“Ek en my dogter, Hannah (13) het gesukkel met depressie. In my skooldae het ek dwelms gebruik, en is verkrag toe ek 25 jaar oud was. Ek is dankbaar dat ek die Here kon ontmoet op ‘n baie donker tyd in my lewe. Dit was hartseer toe ek sien dat Hannah my dogter ook begin het om haarself te sny toe sy 11 jaar oud was,” noem Adéle, terwyl haar oë tranerig raak.

Adéle Löhmann voer vir In Spain, wat elke krummel opraap. Foto: Wouter Pienaar

Die omkeerpunt was toe Adéle vir Hannah ‘n perd gekoop het en daar ‘n merkwaardige gemoedsverandering plaasgevind het. “My dogter was nog altyd mal oor perde en ons het die idee gekry om ‘n plek te begin waar perde gebruik kan word om mense te help. “Ons het eers langs die N12 begin, maar om elke dag 35km in en uit Potch te ry was nie ideaal nie. Ek het nodig gehad om ‘n stuk grond in Potch vir die perde te kry. Gelukkig kon iemand my deur middel van WhatsApp help. Dit was ‘n groot seën, maar daar lê nog baie werk voor om die plek op die been te kry,” noem Adéle. Daar is tans 13 perde op Serenity Equestrian Centre se perseel wat verskeie perderasse insluit. Van hierdie perde was ook top resiesperde. Meeste van hierdie perde het by Adéle-hulle as skenkings gearriveer, maar met genoeg liefde en versorging is daar nou ‘n huppel in hul galop.

Stephano Jipi is een van Serenity Equestrian Centre se hardwerkende engele. Foto: Wouter Pienaar

Adéle, Hannah en Stephano Jipi versorg tans die perde voltyds. Daar is ook ‘n ekstra werker wat af en toe uithelp. Serenity Equestrian Centre het al sessies met van die Abraham Kriel kinderhuis se kinders op die perde gehad, met baie goeie terugvoer oor hoe die kinders se gemoedstoestand verbeter het. “Dit is wonderlik om dit te sien. Die perde is werklik vriendelik en is baie goed met kinders. In die toekoms beplan ons om ‘n beradingskamer in te rig op die perseel waar daar op verkragtingslagoffers gefokus word. “My dogter wil ook graag ‘n ondersteuningsgroep vir jongmense begin. Dit is belangrik dat kinders verstaan dat hulle nie alleen met probleme sit nie,” vertel Adéle.

Adéle wys hoe liefdevol Fiona is. Foto: Wouter Pienaar

Verder beplan Adéle ook om die grond op meerdoelige wyse te gebruik met ‘n groentetuin wat groente vir ouetehuise kan verskaf. “Op hierdie stadium het Adéle baie mediese onkostes wat sy moet terugbetaal omdat sy die perde eers tot volle gesondheid moes bring. Daar lê ook baie werk voor om die terrein gereed te kry. “Ek het boumateriaal nodig, houtpale, drade sowel as sand. As mense net ‘n klein bydrae kan maak, al is dit R50, sal dit ontsettend baie help. “Ons beplan ook om in die toekoms ‘n gholfdag aan te bied om fondse in te samel sodat ons die veeartsrekeninge kan betaal.” Vir Adéle is haar droom eenvoudig – om heling met perde en ‘n lewe van hoop een galop op ‘n slag te bring. “Ek wil graag kinders hier kry wat hulp die nodigste het. Op die perde kan almal hulle einas uitry.” Vir meer inligting kontak vir Adéle by 064 534 4615 Foto’s: Wouter Pienaar  

 

 

Related Articles

Back to top button