NewsNews

Cois se geveg teen virus ‘n diep geestelike ervaring

“Ek en Nadia lewe nou asof daar nie ‘n môre is nie. Ons waardeer weer die klein dingetjies in mekaar en vat niks meer as vanselfsprekend nie"

Tussen 2 Julie en 5 Augustus vanjaar het Francois Botha van Vanderbijlpark ‘n paar keer by die dood omgedraai terwyl hy in die hospitaal teen Covid-19 geveg het. Vandag kan hy terugkyk en sonder twyfel verklaar: “Wonderwerke gebeur steeds!”

Francois, of Cois soos sy vriende hom ken, was ‘n energieke 45-jarige man en afdelingsbestuurder by Makro toe die virus hom vroeër vanjaar platgetrek het. Met ‘n suurstoftelling van net 70% en ‘n infeksietelling van 203 wat 5 moes wees, moes hy sewe ure wag om ‘n beskikbare hospitaalbed te kry. Covid-beddens was in daardie stadium landwyd so skaars soos hoendertande.

“Ek het gesien hoe my gees my liggaam verlaat en al nader na ‘n helder lig beweeg, met my ma en pa wat verskyn om vir ‘n laaste keer te groet. Min wetend was dit dieselfde aand wat my vrou Nadia nie kon slaap nie en vir my begin bid het tot 04:00 daardie oggend. Om 04:00 word my vriend Dirk du Preez ook wakker en hoor hoe die Here vir hom sê om vir my te bid.

“Drie dae daarna, toe ek weer skouers met die dood skuur, beveel die dokter dat elke hospitaal landwyd elke twee ure gebel moet word vir my vir ‘n bed in ICU. Toe gebeur ‘n wonderwerk.

Na sewe dae wat daar nie ventilators is nie, word ek opgeneem in Mediclinic Vereeniging en word onmiddellik op ‘n ventilator geplaas vir 14 dae. My hele lyf was so seer dat ek wou huil van pyn.

“Tydens die fisiosessies slaan die fisioterapeut bolle swart mukus so groot soos R5-munte uit my uit. Na twee weke in die intensiewe sorgeenheid word ek oorgeplaas na die gewone saal waar ek nog twee weke lê. Om te probeer loop, is ‘n geweldige inspanning. Vier tree badkamer toe voel soos ‘n marathon terwyl ek smag na asem – selfs al is ek aan ‘n suurstofmasjien gekoppel. Ek hoor hoe ander pasiënte se mans en vroue oor ‘n video call vir hulle bid en by God smeek om hul maatjies te spaar. Ek vra die Heer hoekom hy my, hierdie sondaar, gespaar het? En daar hoor ek duidelik God sê vir my: ‘Want My genade is vir jou genoeg!’

“Na vyf weke in die hospitaal en 24 kg ligter is ek op 5 Augustus huis toe. Ek moes weer leer loop want my bene was baie swak en dun as gevolg van spierwegkwyning.

“Vandag, drie maande later, kyk ek terug en besef ek dat wonderwerke steeds gebeur.

“ICU is net letters tot jy daar beland. ‘n Ambulans is net ‘n voertuig totdat jy self daarin vervoer word, maar ook daar is God teenwoordig.

“BID is net drie letters, maar het groot betekenis want daar is krag in gebed. Al was ek bang en het besef ek gaan dalk sterf, het God my nooit gelos nie.

“Ek was nog altyd gelowig en lewe na aan die Here, maar een ding het ek besef: Dat môre nie vir ons gewaarborg is nie; dat die lewe te kort is. Maak reg met daardie persoon vir wie jy kwaad is en spreek hom of haar vry, en weet net ons dien ‘n Groot God. Sy genade is vir my en vir jou genoeg.

“Ek en Nadia lewe nou asof daar nie ‘n môre is nie. Ons waardeer weer die klein dingetjies in mekaar en vat niks meer as vanselfsprekend nie – self nie eers om op te staan of te loop nie. In ander woorde, wees net lief vir mekaar. En as jy ‘n tweede kans kry, gebruik dit, want God het nog ‘n plan en ‘n doel met jou en my.

“Dankie aan my engelvrou en vir almal wat nooit ophou bid het nie,” sê Cois.

Hy bedank ook vir Lelanie Loubser wat hom gehelp het met die hantering van sy posttraumatiese stres.

Die dag wat Cois uit die hospitaal ontslaan is en huis toe kon gaan – 5 Augustus 2021.
Cois terwyl hy in die hospitaal aan ‘n ventilator gekoppel was.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig op die webwerf van die Herald se susterkoerant Vaalweekblad:

Cois se geveg teen virus ‘n diep geestelike ervaring | Vaalweekblad

Related Articles

Back to top button