NewsNews

Callies se nuwe hoof reg vir groot dinge

Hoërskool Carletonville het ‘n nuwe hoof met uitstekende ondervinding by verskeie skole.

Mev. Esmé Eksteen is met ingang 1 November as Hoërskool Carletonville se nuwe hoof aangestel.
Sy is in Johannesburg gebore, maar het in die omgewing van Sabie en Graskop in die Laeveld, nou Mpumalanga, grootgeword.
Sy het in haar laat laerskooljare na die Hoëveld teruggekeer en het na matriek aan die destydse RAU, deesdae bekend as UJ, haar B.Bibl Ed verwerf.
Vier jaar later verwerf sy haar honneursgraad in Biblioteekkunde.
Eksteen het by verskeie skole, waaronder Hoërskool Die Fakkel, Hoërskool Wonderfontein en Hoërskool Westonaria skoolgehou.
In 2012 is sy as departementshoof by Hoërskool Riebeeckrand aangestel.

In 2019 keer sy terug na Hoërskool Westonaria as adjunkhoof, ‘n pos wat sy tot verlede maand beklee het.
Eksteen het vir baie jare Afrikaans onderrig en later Toerisme, wat ‘n passie geword het. Sy merk al vir sowat 26 jaar graad 12-vraestelle waar sy gevorder het tot by die vlak van “Deputy Chief Marker”.
Sy was deur die jare by ‘n verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite, waaronder netbal, redenaars en debat, toneel, landsdiens, binne- en buitelandse toere en “alles wat hoofde kon uitdink om onderwysers mee besig te hou,” betrokke.
Sy is getroud en het drie kinders en twee en ‘n half kleinkinders.
“Ek sou nooit in my lewe gedink het gedurende die 13 jaar by Wonnies, dat ek ooit as hoof by Callies sou eindig nie.
“Hulle was immers Wonnies se grootste vyand!” het sy na haar aanstelling gesê.
“Callies is bevoorreg met mev. Eksteen se aanstelling en ons wens haar voorspoed toe met die belangrike taak,” sê ‘n woordvoerder van die skool, me. Sandra Venter.

Related Articles

Back to top button