CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Stem VF Plus op 1 November en stop die uitbuiting en verval

Die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) se wankelrige infrastruktuur kan suiwer voor die deur van die ANC-regering se wanbestuur geplaas word.

Die munisipaliteit gaan daagliks gebuk onder elektrisiteit- en waterprobleme wat dae neem om te herstel weens die munisipale bestuurder se onvermoë om die dorp finansieel suksesvol te bestuur.
Verskeie voorbeelde van korrupsie in die munisipaliteit, soos die voormalige burgemeester, Maphefo Mogale-Letsie, se betrokkenheid by die VBS-bank skandaal en meer het bygedra dat inwoners nou gestraf word vir die onbevoegdheid van senior amptenare.
Die VF Plus se burgemeesterskandidaat, Ben van der Berg en sy bekwame kandidaatspan, Dirk van der Hoff, Pieter O’Riley, Calla Herselman-Van der Berg en Tollie Lubbe, glo dat ‘n funksionele munisipaliteit die privaatsektor sal aanmoedig om in die munisipaliteit te belê, wat sal lei tot die skep van werksgeleenthede en ‘n verbetering in inwoners se ekonomiese welstand.
Regeringsprojekte wat poog om werk te skep, skep slegs tydelike werk. Munisipaliteite se fokus moet nie wees om self direk werk te skep nie, maar eerder om ‘n gunstige omgewing vir die privaatsektor te bewerkstellig om uit te brei en werksgeleenthede te skep.
Regstellende Aksie-aanstellings lei tot die klemverskuiwing van meriete na ander gronde soos velkleur, politieke affiliasie en politieke party-faksie.
Hierdie aanstellings en kaderontplooiing het tot erge wanbestuur gelei. Die party is van mening dat daar ‘n algehele tekort aan fiskale dissipline op plaaslike regeringsvlak is waar buitensporige salarisse betaal word en luukshede vir burgemeesters, munisipale bestuurders en ander aan die orde van die dag is.
Onderbesteding van voorwaardelike toekennings vir infrastruktuurontwikkeling vind steeds plaas. In ander gevalle word voorwaardelike toekennings vir salarisse aangewend en nie vir infrastruktuurinstandhouding of -ontwikkeling nie.
Weens die enorme werkloosheidskrisis en armoede in die land is daar geweldige druk op munisipaliteite omdat inwoners nie vir hul water, sanitasie, vullisverwydering en elektrisiteitsvoorsiening kan betaal nie. Munisipaliteite het egter gefaal om armlastigheidsregisters volledig op te dateer.
Dit het daartoe gelei dat baie inwoners wat volgens hul inkomstevlak as armlastig beskou moet word en kwalifiseer vir gratis dienste, nie op die register aangebring is nie.
Merafong se finansiële krisis veroorsaak dat krediteure soos Eskom nie ten volle betaal kan word nie, daar nie effektief dienste gelewer kan word nie en infrastruktuur nie in stand gehou kan word nie.
Munisipaliteite sien die buitensporige verhoging in eiendomsbelasting en tariewe as die oplossing vir finansiële tekorte.
Klein- tot medium-sakeondernemings kan hul deure sluit weens onbekostigbare verhogings wat tot werkloosheid en verdere verarming van inwoners kan lei.
Inwoners van Merafong het op 1 November die geleentheid om saam met die VF Plus teen die ANC op te staan en die verval te keer.

Related Articles

Back to top button