NewsNewsSportSport

Vegters wys ander hóé

Lede van die XKT Fight St MMA en skopboksklub in Carletonville het die afgelope naweek hul staal tydens ‘n groot gemengde gevegskuns (MMA) byeenkoms gewys.

Volgens dié klub se afrigter, Shihan Chimmy van Winkel, het drie van die klub se jong vegters Saterdag aan die ontwikkelings-kompetisie by Hartbeespoortdam deelgeneem.
“Hierdie is een van die byeenkomste wat deur die president van MMASA, Raymond Philips, en sy bestuurspan gereël is om vegters in die Covid-19 tyd aan die gang te hou. Die outjies is lus vir veg, maar baie van die groter byeenkomste soos die SA’s moes weens Covid-19 afgestel word,” sê Van Winkel.
Hy sê die MMA Wêreldkampioenskap, wat later vanjaar in Kazakhstan sou plaasvind, is ook nou weens Covid-19 afgestel. Twee van die klub se lede, Carissa Botha en Zulu Ngoma, het gekwalifiseer om aan dié byeenkoms deel te neem.
Hoewel streng reëls om die verspreiding van Covid-19 te keer steeds by die afgelope naweek se kompetisie in plek was, was dit die eerste keer in ‘n lang tyd dat ‘n beperkte getal toeskouers ook kon gaan kyk.
Drie van die klub se vegters, Alex Tuz, JT Tuz en Dillan van Graan, het plekke tydens die afgelope naweek se kompetisie ingepalm. Alex moes in twee gevegte meeding en het ‘n goud en silwer ontvang.
JT en Dillan het elkeen ervare vegters aangedurf en met silwer huis toe gekom.
Die volgende kompetisie waaraan vegters gaan deelneem, is ‘n nasionale seniorkampioenskap wat op 29 en 30 Oktober by die Valhalla Lugmagbasis in Pretoria gaan plaasvind.

Related Articles

Back to top button