CommunityNewsNews

VF Plus plaas Merafong City se gemeenskappe eerste

Die VF Plus kandidate vir die komende plaaslike regeringsverkiesing op 1 November is slaggereed om die gemeenskap van Merafong City eerste te plaas.

Die burgemeesterskandidaat, Ben van der Berg, is ‘n bekende inwoner van Carletonville en die afgelope vyf jaar ‘n VF Plus-raadslid in die Merafong-plaaslike munisipaliteit. Hy is by verskeie gemeenskap- en liefdadigheidsprojekte in die munisipaliteit betrokke en is ook Carletonville se Geloftefees-komitee se ondervoorsitter. Ben se passie om die gemeenskap van Merafong se omstandighede te verbeter blyk uit sy toegewydheid om hulle by te staan met diensleweringsprobleme en te veg vir hul regte in die munisipale raad.
Die ander kandidate wat deel van die VF Plus wenspan in Merafong City vorm, is Dirk van der Hoff wat die afgelope 21 jaar ‘n inwoner van Fochville is en Pieter O’Riley wat reeds vir 42 jaar in Carletonville woon. Calla Herselman-Van der Berg en Tollie Lubbe voltooi die sterk span wat veg vir bekostigbare, verantwoordbare en volhoubare dienslewering. Dit is geen geheim dat Merafong City (Carletonville, Fochville en Welverdiend) een van die swakste presterende munisipaliteite in Gauteng is en geteister word deur korrupsie, wanadministrasie en onbevoegdheid onder ANC-beheer. Gemeenskappe ly onder diefstal, vervalle infrastruktuur, swak of geen instandhouding en onbekwame finansiële bestuur deur korrupte en onkundige amptenare. Die VF Plus se span het ‘n werkbare oplossing en die kundigheid om toe te sien dat infrastruktuur betyds herstel of vervang word voor dit tot groter probleme vir die gemeenskap kan lei. Dit is onaanvaarbaar dat getroue belastingbetalers gestraf word vir die ANC se onbevoegdheid. Die VF Plus wil verseker dat die gemeenskappe van Merafong City eerste gestel word en nie meer uitgebuit en verarm word terwyl dienslewering totaal in duie stort nie.
Staan saam met Ben van der Berg en sy span van die VF Plus en stuur op 1 November ‘n sterk boodskap aan die ANC dat swak dienslewering, wanadministrasie en korrupsie in die munisipaliteit nie langer geduld sal word nie. U het ‘n keuse om die ANC met ‘n verantwoordbare en bevoegde munisipale bestuur te vervang deur op 1 November VF Plus te stem.

Related Articles

Back to top button