NewsNews

Eise van huiseienaars 97% hoër in reënseisoen – 9 wenke om jou huis te beskerm

Met net sowat ‘n maand voordat groot dele van Suid-Afrika se reënseisoen afskop, en eise wat volgens blinknuwe data tydens hierdie seisoen feitlik verdubbel, het huiseienaars en huurders nou die ideale geleentheid om hul huise na te gaan, die nodige aanpassings te maak en herstelwerk te doen om ‘n duur, renerige ramp te voorkom.

Volgens die maatskappy Virseker styg huiseienaarseise in die reënseisoen – van Oktober tot Maart – tot ‘n allemintige 197% van die res van die jaar se gemiddeld – iets wat die geval was in 2018, 19 en 20 – en word dit hoofsaaklik deur weerverwante faktore veroorsaak.

“Water-, hael- en weerligskade of bome wat val is tipies die grootste sondebokke. Iets wat kommerwekkend is, is dat dit in ‘n groot aantal gevalle deur goeie, proaktiewe inspeksies en -onderhoud voorkom kon word,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

“Net omdat jou huis die laaste reënseisoen goed deurstaan het, beteken nie dat als steeds klopdisselboom is nie. Doen eerder die moeite om dit weer noukeurig na te gaan of professioneel te laat nagaan, proaktiewe stappe te neem en sodoende moontlik duisende rande se skade, en dalk selfs ernstige beserings, te vermy.”

Virseker bied die volgende wenke vir ‘n deeglike reënseisoen-inspeksie:

Blaar gevaar: Maak alle geute en dakrante gereëld skoon – blare en ander plantoorskot kan verhoed dat water effektief weg van die dak af dreineer.

Dakslim: Gaan die dak na en kyk uit vir teëls wat geskuif het, waterdigting wat verweer, dele van grasdakke wat nie meer dig gebind is nie ens. Doen ook ‘n inspeksie van die binnekant van jou dak om seker te maak dat dit dig seël. Geen sonlig behoort sigbaar te wees nie, want as sonlig kan inkom, kan water ook.

Vat krake vas: Gaan alle deur- en vensterrame, veral dié wat van hout gemaak is, sowel as mure, vloere en fondasies na vir krake waar water kan deursypel.

Pyn in ‘n drein: Maak seker dat alle dreineringsslote, -pype en -gate in ‘n goeie toestand is en hou ‘n ogie uit vir water wat opbou wanneer dit reën. Die opbou van water in jou erf of om jou huis kan stygende vog en probleme met die fondasie veroorsaak. Gebruik (verkieslik omgewingsvriendelike) skoonmakers gereëld, selfs al is daar nie dreineringsprobleme nie.

Verf wat dop, groot flop: Let op na verf wat afdop. Verf beskerm jou huis teen water net soos vernis hout beskerm. Wanneer jy jou huis verf, sluit ‘n goeie seler in.

Druktoets: Die druk van sterk wind, swaar hael of ‘n oormaat water kan bome en strukture maklik laat meegee. Takke, tuinmeubels- en gereedskap of dele van strukture wat loskom kan ook in dodelike projektiele ontaard. Gaan items wat aan die elemente blootgestel word deeglik na en spreek enige risiko’s dadelik aan.

Versterkings: Indien jy in ‘n area woon wat geneig is tot vloede of ander uiterste weerstoestande, is jou eie voorraad sandsakke en ander versterkings ‘n goeie idee.

Vermy die skok: Installeer muurproppe wat toestelle kan beskerm teen kragstuwings wat deur weerlig veroorsaak word.

Observeer: Kyk uit vir veiligheidsrisikos naby jou huis, soos swak dreinering, gekraakte strukture en grondverskuiwings en stel die owerhede onmiddellik in kennis.

“Dis dalk moeite, maar proaktiewe inspeksies en herstelwerk kan jou in die lang duur ‘n klein fortuin spaar,” sluit Coetzee af, “Dis egter altyd wys om goeie, omvattende huiseienaarsdekking in plek te hê vir ingeval teëspoed jou tref.”

Related Articles

Back to top button