NewsNews

Ongeluk naby President Hyper Vaal eis ouers se enigste kind

‘n Verdere hartseer is dat Natasha se selfoon op die ongelukstoneel weggeraak het. Haar ouers vra dat indien iemand dit dalk opgetel het, hulle die foon maar kan hou, maar net die kosbare foto’s van hul kind wat daarop is, aan hulle moet stuur.

“Ons harte is verskeur en ons wêreld is in miljoene stukke geruk. Ons huis is stil sonder ons dogter. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie.”

Dit is die hartroerende boodskap van Natasha van der Watt (23) se ouers, Meisie en Marius, na hul enigste kind se tragiese dood in ‘n voertuigongeluk, wat op 10 Julie by President Hyper Vaal in Vanderbijlpark se verkeerslig plaasgevind het.

“Die laaste wat ek met Natasha oor die foon gepraat het, was 11:31 die oggend. Ek het daarna nog WhatsApp-boodskappe gestuur oor spesiale aanbiedinge wat sy in gedagte kon hou. My laaste boodskappe het om 11:40 deurgegaan maar ek kon sien dat sy dit nie gelees het nie.

“Ons is dadelik na die toneel waar ons die wrakke en die impak gesien het… en dat ons dogter langs die bakkie toegegooi was. Ek het haar handjie met haar verloofring sien uitsteek en geweet dit is definitief sy. Marius het haar oopgegooi om te bevestig dit is ons kind.”

Wesley is met kopbeserings en swelling op die brein in die hospitaal opgeneem. Die bestuurder van die BMW het matige beserings en vermoedelik ‘n verstuite gewrig opgedoen. Die polisie ondersoek nog die oorsaak van die ongeluk.

Natasha, wat op 3 September 24 sou word, was ‘n oudleerling van Laerskool Kollegepark en het in 2015 aan Hoërskool Transvalia gematrikuleer.

“Sy was ‘n unieke mensie met ‘n sagte, liefdevolle hart. Sy het altyd uit haar pad gegaan om ander welkom te laat voel en met hul probleme te help. Sy was lief vir movies, kamp, visvang, dans en lees en het selfs novelles geskryf. Bo alles het sy ‘n passie vir kinders gehad. Na skool het sy skoolkinders ge-tutor en het ook as au pair gewerk. Haar droom was om verder te gaan studeer en ‘n onderwyseres te word.

“Marius en ek sou die oggend van die ongeluk self gery het vir ons kruideniersware, maar omdat Natasha en Wesley ook inkopies moes gaan doen, het sy met haar kenmerkende behulpsame geaardheid aangebied om ons s’n ook te gaan koop,” sê Meisie.

Die gebroke ouers sê hulle sukkel nog om die realiteit te aanvaar dat Natasha nooit weer huis toe gaan kom nie, dat hulle nooit weer haar stem en haar lag sal hoor nie en nooit weer haar soentjies en drukkies sal kan voel nie. “Ons gaan nooit die voorreg hê om ‘n kleinkind te hê nie.

“Die lewe voel so betekenisloos en asof mens niks meer het om aan vas te hou nie. As dit nie vir my man was nie, sou ek opgegee het,” sê Meisie.

“Ek is dankbaar ek kon my kind op die ongelukstoneel ‘n soentjie op die voorkop gee en haar hand vashou en vir haar sê hoe lief ek vir haar is, al was sy nie meer daar nie. Ons is ook dankbaar teenoor Antoinette en haar man Phillip, en al die mense wat om Natasha gebly en by haar gewaak het totdat ons gekom het.”

* ‘n Verdere hartseer is dat Natasha se selfoon op die ongelukstoneel weggeraak het. Haar ouers vra dat indien iemand dit dalk opgetel het, hulle die foon maar kan hou, maar net die kosbare foto’s van hul kind wat daarop is, aan hulle moet stuur. As iemand weet waar die foon is of toegang tot die foto’s het, kan hulle Vaalweekblad by 083 246 0523 kontak, wat sal help om die foto’s aan die ouers te besorg.

Wyle Natasha van der Watt.
Die wrak van Natasha en Wesley se bakkie op die ongelukstoneel.
Wyle Natasha van der Watt.

******************************************************************************************************************

Ongeluk naby President Hyper eis ouers se enigste kind | Vaalweekblad

Related Articles

Back to top button